Die probleem met ekstremistiese gematigdes

Daar is al baie name geslinger na ‘ons’ toe. Ver-regs, ekstremiste, rassiste ensomeer is niks nuut nie. Ons sien ons self dalk as konserwatief en/of behoudend. Al hierdie name is ‘n poging om die faksies binne ons volk te identifiseer sodat ons dienooreenkomstig kan weet wie staan langs my en wie staan oorkant my.

Ons is lief om die linkses ook as die ‘liberales’ te beskryf. Dit is egter ‘n fout. Volgens my HAT is liberaal:

Vrysinnig, ruim denkend, nie ortodoks.

As ‘n Selfstandige naamwoord word dit as volg beskryf: voorstaander van onder andere ekonomiese en kulturele vryheid.

Vir die laaste tien jaar is ek betrokke by ons volk se strewe na vryheid, “onder andere ekonomiese en kulturele vryheid”. Die inisiatiewe en aksies, soos Praag is ‘vrysinnig, ruim denkend en nie ortodoks’. Ons volk dink elke dag aan nuwe maniere om vryheid te bekom, nuwe planne om ons volk te red van hierdie situasie en ons ondersoek nuwe gedagtes en idees. Per definisie is ons dus liberaal.

Gaan kyk ons na konserwatisme in die HAT:

“Verkleefdheid aan die bestaande orde, behoudsug.”

Ek het absoluut geen verkleefdheid aan die bestaande orde nie. Ek wil nie die bestel behou waar ons mense vermoor en verkrag word nie. Die ‘linkses’ wil alles hou soos dit is. Hulle is nie beskikbaar om uit die doos te dink aan nuwe idees en planne vir die voortbestaan van ons volk nie. Hulle is dis besig met konserwatisme.

Linkse(s). Persoon behorende tot ‘n groep of party wat na die liberale, radikale, soms kommunistiese kant neig OF wat deur hervorming of revolusie die bestaande politieke orde wil omverwerp.

Regse (s). ‘n Persoon behorende tot ‘n groep of party wat ‘n konserwatiewe tradisionele beleid volg en gekant is teen radikale verandering op politieke, sosiale of ekonomiese gebeid.

Met ander woorde: As jy deur hervorming of revolusie, bestaande uit vrysinnige, ruimdenkende en nie ortodokse metodes, die bestaande politieke orde wil omverwerp, dan is jy ‘n “Linkse liberalis”.

As jy gekant is teen radikale verandering op politieke sosiale en ekonomiese gebied, omdat jy verkleef is aan die bestaande orde, is jy ‘n “Regse Konserwatiewe”

Ons het dus in 1994 verander van regses na linkses sonder om dit te besef. Dit is ook duidelik uit baie skrywes en opinies dat baie van ons mense nie besef ons het die verandering beleef nie. Hulle wil behoudend staan, soos voor 1994, teenoor wat “ons s’n” is terwyl ons alles verloor het. Die gedagte-sprong het nog nie heeltemal posgevat nie en daarom is dit vreeslik deurmekaar. Ons voel ons moet behoudend staan want ons het dit opgebou, maar ons het geen mag om dit te doen nie. In dieselfde asem is die ANC nogsteeds besig om radikaal te wil verander en het hulle nog nie besef hulle beter behoudend begin optree oor wat nou “hulle s’n” is nie.

Gematig. Wat nie tot uiterstes gaan nie. Besadig, kalm, beheers.
Ekstremis: Iemand wat tot uiterstes gaan
Ekstermisme: deurdrywing tot die uiterste toe, rigting wat uiterstes nastreef…

Die grootste probleem wat ons het is egter die ‘gematigdes’. Die klomp mense hier in die middel wat nie betrokke wil raak nie. Hulle het geen behoefte om betrokke te raak nie. Hulle is vasgevang tussen wat hulle weet is reg en dit wat die media vir hulle vertel is reg. Meeste van hulle voel skuldig oor iets sonder om te weet waaroor.

Dit is dalk ‘n teenstrydigheid maar die beste beskrywing van hierdie mense is Ekstrimistiese gematigdes. ‘n Groot deel van ons volk is so verward en verboureerd dat hulle vasgryp aan hierdie gematigde reddingsbootjie. Hulle het gematigheid verander in ‘n totale hipernorm wat nie anders kan beskryf word as ‘n tipe ekstremistiese ideologie nie. Die oomblik as jy met ‘n pool, ongeag links of regs, naby hulle kom onttrek hulle onmiddelik. Dit is ‘n oordrewe apatie wat heers onder hierdie mense. Hulle wil glad nie assosieer met enige vorm van politiek nie. Hulle doen wat hulle kan om hierdie gematigheid te beskerm. Die sukses van organisasies soos Afriforum en die DA spreek boekdele hiervan.

Die ekstremistiese gematigde klou vas aan inligting wat beweer dat dinge nie so erg is nie en daarom sal hulle nooit Naspers bevraagteken nie. Hulle klou vas aan die idee dat multikulturaliteit ononderhandelbaar is en daarom sal hulle nie die DA bevraagteken nie. Hulle glo dat dit reg is dat hulle kinders ook die ‘ander’ geskiedenis moet respekteer en leer, daarom sal hulle nooit die kurrikulum bevraagteken nie. Hulle is so ekstremisties vasgevang in hulle situasie dat hulle weier om enige iets te bevraagteken en weier om betrokke te raak.

Dalk is dit as gevolg van ‘n oordrewe sin van konserwatisme. Dalk is hierdie gematigdes ook nog onder die indruk dat ons moet behou wat “ons s’n” was. Dit is miskien ‘n onderliggende ‘regse’ assosiasie wat hulle tot daar dwing. Die oorgang van ‘regs konserwatief’ na ‘links liberaal’ het eintlik reeds plaagevind onder ons wat as ‘regses’ deur die media geklasifiseer word, sonder dat ons dit weet. Dalk is dit die kloof waar die gematigdes vasgekeer is- hulle verstaan nie dat hulle hierdie kopskuif moet maak nie. Hulle staan met hulle rug teen die muur en poog eenvoudig om so neutraal as moontlik voor te kom, selfs in ‘n ekstreme mate.

Ons sit met ‘n groot probleem in Suid-Afrika. Dit is duidelik dat die ANC nog nie ophou ‘struggle’ het nie. Demokrasie is nie vir hulle genoeg nie, hulle wil radikaal ingryp en verander. Die sogenaamde ‘regses’ wil ook ‘n radikale verandering teweegbring. Ons sit dus tegnies met twee opponerende ‘linkse’ groepe in Suid-Afrika wat verskillende doelwitte wil bereik.

Dus: Ons sit met “Ekstremistiese linkse liberale” wat nou eintlik “regse konserwativiste” is en “Regse konserwativiste” wat besig is om eintlik “estremisties links-liberaal” op te tree, sonder dat iemand dit weet. Ons sit met ‘linkse liberaliste wat sosialisme as beleid het” en “linkse liberalisme wat volksvryheid” as beleid het. Dit laat die arme “ekstremistiese gematigdes” eintlik as die enigste ware “regse konserwativiste” oor sonder dat hulle dit weet.

Die enigste verskil tussen die linkse ANC en die linkse “Regses” is dat hulle ‘n spesifieke doelwit het waarheen hulle werk, genaamd die Vryheidsmanifes. Dit het tyd geword dat ons ‘n Vryheidsmanifes van ons eie opstel waarmee al die faksies kan assosieer. Dit het tyd geword dat ons ander terminologie moet gebruik om die huidige verwarring uit te skakel. Dit het tyd geword om te aanvaar ons is liberaal in ons stryd en ons kan ons losmaak van die behoudende bande. Ons moet nuut, vrydenkend en innoverend optree. Die tyd het gekom om die ‘ekstremistiese gematigdes’ te ontneem van die gerief en gemak om weg te kruip. Dit is tyd om jou kant te kies. Dit is tyd om, soos die linkse liberalste dit noem- te “struggle!”

Олександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae