Koningin Elizabeth II en die voormalige bevelvoerder van die Ierse Republikeinse Leër (IRL) het Woensdag in ‘n hoogs simboliese gebaar blad geskud – ‘n langverwagte ontmoeting wat die vordering in Noord-Ierland ná dekades van geweld aandui.
Volgens beamptes in Noord-Ierland het die monarg en Martin McGuinness mekaar Woensdag tydens ‘n privaatgeleentheid by ‘n teater in Belfast ontmoet.
Die media is nie by die geleentheid toegelaat nie. Daar word verwag dat dié twee later in die openbaar ook mekaar die hand sal gee.
Volgens kenners was McGuinness die IRL se hoof toe die groep die koningin se neef, Lord Louis Mountbatten, in 1979 in ‘n sluipmoordaanval om die lewe gebring het.
Die IRL het intussen hulle veldtog van geweld laat vaar en in 2005 die wapen neergelê.
McGuinness se nasionalistiese Sinn Fein-party het tot Woensdag enige kontak met die Britse koninklikes op hulle voorwaardes geweier.
