Die saak is in Mei vir verdere ondersoek uitgestel.
Barend la Grange (58) en Louis Mabokela (25) is aangekla van die skending van Brett Murray se skildery The Spear by die Goodman-galery in Mei.
Zuma se gesig en onderlyf is met rooi en swart verf besmeer.
La Grange het ná sy hofverskyning gesê die galery en die kunstenaar het die reg om die skildery ten toon te stel, maar nadat hulle punt gemaak is, moes die skildery verwyder gewees het.
“‘n Hooggeregshof moet betrokke raak by ‘n skildery? Dit het my 15 sekondes geneem om ontslae te raak van die skildery,” het hy gesê.
Sy mede-beskuldigde, wie se oom en ‘n groep ANC-ondersteuners buite die hof saamgedrom het, sê hy wou pres. Zuma se vernedering “toemaak”.
“Ek het die vernedering van die president probeer toemaak. Hulle beledig die president. Dit is my president. Die is ‘n belediging vir ons, [vir] alle mense.”
Beide mans se borgtog van R1 000 is verleng. Hulle staan tereg op ‘n aanklag van saakbeskadiging.
