Die Inkatha Vryheidsparty se Koos van der Merwe en adjunk-minister van vervoer, Jeremy Cronin van die ANC se wit manlike vermetelheid het beslis by Lindiwe Mazibuko geregistreer.
Hulle blatante seksistiese opmerkings was van dieselfde orde as rassebeledigings, het me. Mazibuko onlangs gebelgd aan die Sowetan verklaar.
Soos ons almal weet is ons politici oor die algemeen nie bekend vir hul sprekersvaardighede of hul vermoë om intelligent, verstaanbaar en sonder kwaadwilligheid te debatteer nie.
Maar daar is uitsonderings.
Demokratiese Alliansie-parlementêre leier Lindiwe Mazibuko se oratoriese meesterstuk se hooftema oor die gebrek aan leierskap in die land, is deur Van der Merwe op ‘n punt van orde onderbreek.
Dit is ‘n ou taktiek wat doelbewus gebruik en misbruik word deur LP’s om ‘n spreker te ontwrig.
“Mevrou adjunk-speaker, kan die eerbare lid sê wat sy met haar hare gedoen het?” was van der Merwe se onnutsige vraag.
Mazibuko het hom verseker dat sy graag haar geheime oor haarsorg sal deel met die bles politikus na die vergadering.
Cronin, ter ondersteuning van Van der Merwe, was daarna ook nie op sy bek geval nie: “Ek dink dat Koos van der Merwe se optrede betreurenswaardig en seksisties was, maar ek kan dit sê vir hom, ten minste is sy hare en sy gedagtes sy eie.”
Cronin is berug vir sy lang lesings in die Nasionale Vergadering oor die klasseoorlog, maar sy teenkanting teen pruike het pas rugbaar geraak.
