SA by kookpunt, waarsku Zuma

Die ANC moet ‘n radikale skuif in beleid voorsien om die probleme van armoede, werkloosheid en ongelykheid aan te spreek, het Jacob Zuma, president van die party, Dinsdag gesê.

“Jy kan nie op een plek sit en hoop dinge kom vanself reg nie,” het hy aan verslaggewers gesê op die eerste dag van die party se vier dae lange beleidskonferensie in Midrand.

Hy het verwys na ‘n sleuteldokument in die besprekings, “Die Tweede Oorgang: Om ‘n nasionale demokratiese samelewing en die balans van magte in 2012 te bou”, en gesê dit is nodig om dit wat verkeerd is met die Suid-Afrikaanse samelewing aan te spreek.

Nadat hy na verskeie gewelddadige misdade verwys het, het Zuma gesê: “Daar is iets verkeerd met ons samelewing… laat ons ‘n radikale skuif vind om die uitdagings aan te spreek.”

Die dokument stel voor dat die ANC nou ‘n tweede era van demokrasie moet betree. Die afgelope 18 jaar was die eerste oorgang, waartydens die fokus op politieke bevryding was.

Die “tweede oorgang” moet fokus op maatskaplike en ekonomiese transformasie in die volgende 30 tot 50 jaar.

Zuma het ontken dat die konsep van ‘n tweede oorgang sinoniem geword het met sy veldtog om herverkies te word. Hy het gesê hy onderstreep dit net omdat dit so belangrik is.

“As president van die ANC het ek debat daaroor verskerp.”

Zuma het Suid-Afrikaners verseker dat die toestand van dié sonder grond aangespreek sal word – sonder om die Grondwet te verander.

In die opbou tot die konferensie was daar vrae om afdeling 25 van die Grondwet, wat verwys na eiendomregte en voorwaardes stel vir die onteiening van grond, te verander.

“Ons weet… niemand gaan die Grondwet verander nie, ons het ‘n land waarmee dit goed gaan. Binne dit, hoe gaan ons hierdie probleme oplos?”

Zuma het gesê die werklike ekonomie is steeds hoofsaaklik in die hande van wit mans en dit moet binnekort aangespreek word.

Terwyl hy ‘n uur en ‘n half lank met verslaggewers gepraat het, het die meer as 3 000 afgevaardigdes agter geslote deure gesit in ‘n voltallige sessie om insette te kry oor die drie hoof-beleidsdokumente: organisatoriese vernuwing, die tweede oorgang – ook bekend as strategie en taktiek, en staatsbetrokkenheid in mynbou. Die nasionale ontwikkelingsplan sal ook bespreek word.

Zuma het vroeër ‘n gemengde verwelkoming gekry toe hy sy openingstoespraak gelewer het. Afgevaardigdes van KwaZulu-Natal en die Vrystaat het gesing: “Ons gaan saam met Zuma, ons gaan saam met die president.” Ander provinsies se afgevaardigdes het egter teruggesit.

KwaZulu-Natal is die ANC se grootste provinsie en Zuma se tuis-provinsie en het 462 afgevaardigdes by die gebeurtenis.

Zuma het geraak aan die hoof-punte van elk van die 13 beleidsdokumente waaroor gedebatteer sal word.

Sy opmerking dat die “gewillige koper, gewillige verkoper”-benadering tot grondhervorming hersien moet word, aangesien dit nie werk nie, het die grootste applous in die volgepakte saal gekry.

Sy opmerking dat die ANC die land deur voorbeeld moet lei, is ook met entoesiastiese applous begroet.

“Dit is baie belangrik as deel van die vernuwing van ons organisasie. Ons doen nie hierdie vir onsself as ANC-lede nie. Ons doen dit vir die land in geheel.

“Daardie besef moet ons gedrag beïnvloed, die manier waarop ons onsself dra as lede van die ANC in die oë van die land.”

Die res van sy toespraak, wat ‘n uur en 13 minute geduur het, is hoofsaaklik in stilte aangehoor, met ‘n bietjie applous toe hy genoem het dat ‘n werksoekerstoelaag oorweeg moet word en dat die ANC hulself moet reinig van “vreemde neigings”.

Dit sluit swak dissipline, korrupsie, die misbruik van mag en die afname in die ideologiese diepte van ANC-lede in. Zuma het gesê die party het “opgetree en sal aanhou om op te tree teen enigiemand wat die grens oorskry”.

Zuma het mislukkings in die eerste 18 jaar blameer op die feit dat die ANC kompromieë moes aangaan toe daar in 1994 oor die terme van demokrasie onderhandel is.

“Ons moes byvoorbeeld versigtig wees om die ekonomie te herstruktureer, sodat ons ekonomiese stabiliteit en selfvertroue kon behou.

“Dus het die ekonomiese magsverhoudinge van die apartheid-era hoofsaaklik staande gebly.” Hy het ‘n beroep gedoen op ‘n “florerende, gemengde ekonomie, waar die staat, privaatkapitaal en ander vorme van sosiale eienaarskap mekaar komplementeer op ‘n geïntegreerde manier om armoede uit te roei en gedeelde ekonomiese groei te koester”.

Toe sy toespraak afgesluit is, het afgevaardigdes begin sing, insluitende Zuma se kenmerkende “Awulethu’ Mshini Wami” (Bring my masjiengeweer).

Ná Zuma se toespraak het Tokyo Sexwale, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, deur die prosedures gelees en aan afgevaardigdes gesê hulle kan nie neerhalende liedjies sing nie.

Zuma het later aan die media gesê dit is ‘n ANC-tradisie om liedjies oor sy leiers te sing.

“Die ANC het gesê ‘laat ons nie leierskap bespreek nie’. Dit is anders as om oor leiers te sing,” het Zuma gesê.

“Histories gesproke het die ANC mense nog nooit gekeer om oor leiers te sing nie.”

Die ANC sal nuwe leiers verkies by sy Mangaung-konferensie in Desember. Die party se top-beamptes het lede gewaarsku om nie hul leiers te benoem voor Oktober of om opvolging voor dan te bespreek nie.

Besluite oor beleid wat by hierdie konferensie geneem word, sal amptelik aanvaar word by die ANC se nasionale konferensie in Mangaung in Desember.

топкарго

Maak 'n opvolg-bydrae