Twee skepe van die Russiese vloot met seesoldate maak gereed om na Sirië te vertrek om Russiese inwoners en die land se basis daar te beskerm, het Interfax Maandag berig.
Rusland is gekant teen eensydige regime-verandering in Sirië deur NAVO se ingryping.
Die nuusagentskap Interfax het ‘n ongeïdentifiseerde Russiese vlootbeampte aangehaal wat gesê het die twee skepe, Nikolai Filtjenkof en Caesar Koenikof, sal binnekort na die Siriese hawe van Tartous vertrek, maar het nie ‘n presiese datum gegee nie.
Die beampte het gesê ‘n onbekende aantal seesoldate sal op die skepe wees om die Russe in Sirië te beskerm en om sommige toerusting uit Tartous te ontruim indien nodig.
Volgens Interfax kan elk van die skepe 150 seesoldate vervoer en 12 tenks.
Opposisiegroepe het gesê meer as 14 000 mense is reeds sedert Maart 2011 in Sirië dood. Rebellegroepe word deur die VSA, Brittanje en bondgenote van wapens en ondersteuning voorsien.
Rusland se voorsorgmaatreëls kom na Barack Obama, die Amerikaanse president, en Vladimir Poetin, sy Russiese kollega, vir ‘n einde aan die geweld in Sirië gevra het en vir ‘n “politieke oorgang na ‘n demokratiese, pluralistiese politieke stelsel” na gesprekke Maandag by die G20-beraad in Meksiko.
Die twee kante het ‘n gesamentlike verklaring oor Sirië uitgereik na die gesprekke op die eerste dag van die beraad by Los Cabos.
Die gesamentlike verklaring steun Kofi Annan se vredespogings en vra dat die oorgang na demokrasie onderneem word deur die mense self, terwyl die behoud van die land se huidige grense gerespekteer word.
“Ons is verenig in die oortuiging dat die Siriese mense die geleentheid moet hê om onafhanklik en demokraties hul eie toekoms te kies,” het die twee leiers gesê.
Poetin het gewaarsku dat die verwydering van die Siriese regime kan lei tot die opkoms van radikale Islamitiese partye of terroriste-organisasies – soos in Somalië – volgens amptenare by die beraad.
Die hawe van Tartous in Sirië is ‘n belangrike Russiese vlootbasis, en kenners skat dat ongeveer 50 Russiese personeel daar werk.
