Die ANC in KwaZulu-Natal ondersteun nie die beroep op die nasionalisering van myne nie, het die provinsiale sekretaris, Sihle Zikalala, Maandag in Durban gesê.
“Ons glo nasionalisering sal duur wees en sal massiewe ekonomiese gevolge vir ons land inhou,” het Zikalala gesê.
Hy het verslaggewers toegespreek ná ‘n ANC-werkswinkel oor die kwessie, wat deur meer as 500 afgevaardigdes in Durban bygewoon is.
“Die verslag is duidelik, nasionalisering sal ongrondwetlik wees, tensy ons die mense betaal wat daardie myne besit, en dit sal die staat meer as R1 triljoen kos,” het Zikalala gesê.
“Dit sal ernstige uitdagings in die ekonomie impliseer, so ons gaan nie die beroep op nasionalisering ondersteun nie.”
