Gister by ‘n Vryheidsfrontvergadering was daar ‘n ligte meningsverskil tussen my en dr. Corné Mulder oor die gebruik van die woord “gemeenskap” wanneer “volk” bedoel word. Dis nie iets waaroor ‘n mens gaan vuisslaan nie, maar vir my is dit belangrik dat ons onsself met die regte terme beskryf. Op die ou end het die hele party die woord “gemeenskap” verkies sodat ek aan die woorde van mev. Margaret Thatcher herinner is: “Ek het my in ‘n minderheid van een bevind.” Darem nie heeltemal een nie, want twee ander mense (uit 77) het ook ten gunste van my voorstel gestem.
Waarom is terme belangrik? Soos dit vir my lyk, is die howe en veral die internasionale tribunale soos die Internasionale Hof in Den Haag miskien nog die laaste plekke waar die Afrikanersaak verdedig kan word. Vandaar my puntenerigheid oor woorde. Want hoewel die woord “gemeenskap” in die SA Grondwet staan en daarmee etniese of “taal- en kultuurgemeenskappe” bedoel word, beskik die begrip “gemeenskap” oor geen regskrag in die volkereg nie.
Tien jaar gelede was daar meningsverskil oor die situasie waarin die Suid-Afrikaanse blankes hulself bevind. Toe is ‘n mens daarvan beskuldig dat jy reaksionêr is as jy die skrif aan die muur sien.
Dieselfde dinge wat ek ‘n dekade gelede op die internet geskryf het, lees ek egter vandag in die Nasperskoerante. Dit wil sê dat die werklikheid van ANC-korrupsie en -rasseoorheersing so skreiend geraak het dat selfs nie eens die apologete van mnr. FW de Klerk en sy oorgawepolitiek dit vandag meer kan ontken nie.
As 1994 ‘n groteske fout was, dan is die groot vraag natuurlik: Hoe gemaak om hieruit te kom? Die ANC en die hele swart elite, asook die verskeidenheid Moslem-, Indiër- en (helaas, ook) Afrikaner-aasdiere wat aan die karkas van Suid-Afrika knaag, sal sekerlik nie sonder slag of stoot hul huidige posisie prysgee nie.
Ek moet sê dat ek weinig vertroue in Afrikaners het as dit by die huidige stryd kom. Ons mense is in die laaste instansie wetsgehoorsaam en daarom het alle vorme van rebellie of opstand deur die geskiedenis onder Afrikaners misluk. Net wanneer die Afrikaner se optrede deur staatsmag en verkieslik ook deur die Kerk gesanksioneer word, is hy bereid om daadwerklik op te tree.
Noem dit die erfenis van Calvinisme, of wat ook al, maar dis ‘n feit. ‘n Mens kan Afrikaners nie eens oorreed om te betoog nie, wat nog te sê om soos Lenin dit gestel het, “oor te gaan tot die hoogste vorm van …bewussyn, gewapende opstand”.
Enkele jare gelede het Pallo Jordan of iemand in die ANC gespog oor hoe lafhartig en apaties die Afrikaners is, of “die setlaars” soos hy ons genoem het. Met groot stelligheid het die ANC-woordvoerder verklaar: “The will to resist is simply not there.”
‘n Vriend van my wat onlangs moedeloos Australië toe geëmigreer het, beskryf Afrikaners as die vreemdste mense op aarde. Hulle het drie eeue lank gestry om ‘n stukkie aarde mak en beskaaf te maak en dit toe met ‘n pennehaal weggeteken. As ‘n Palestyn deur ‘n Israeli doodgemaak word, bars woede los en eggo dit tot in die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies. As ‘n Jood deur ‘n Palestyn gedood word, voer die Israelse Lugmag goedsmoeds ‘n bombardement op die Gasastrook uit. Twee volkere baklei in die Midde-Ooste tot die dood toe oor ‘n stukkie aarde wat soos ‘n Karoodorp en distrik lyk. As FW de Klerk of Pik Botha Jode was, sou hulle al voor brekfis die vredesooreenkoms geteken en Jerusalem met ‘n glimlag aan Hamas oorhandig het!
Gister is die sogenaamde “Jeugdag” gevier. Dit het ons herinner aan ‘n tyd in 1976 toe die swart jeug van Soweto so opstandig geraak het oor hulle bietjie Afrikaans moes leer (en nie eens nie, want die besluit is nooit deurgevoer nie), dat hulle ‘n paar blanke amptenare doodgemaak en daarna biersale en skole begin afbrand het. Tot vandag toe herdenk hulle die toevallige dood van Hector Peterson wat per abuis deur ‘n polisiekoeël gedood is. ‘n Hele mite is rondom hierdie gebeure gekonstrueer.
Maar ons Afrikaners verduur die gruwelike dood van ons kinders met ‘n stoïsynse gelatenheid. Ons het al vergeet hoeveel van ons kinders wat oor die afgelope tyd vermoor is, soos Danielle Esterhuizen, Willemientjie Potgieter en Wiehan Botes van Delmas. Hul name verdwyn in die vergetelheid. Óf ons het baie gevoelloos geword, óf ons is regtig die uitverkore Christelike volk, want om die ander wang te draai, het by ons tweede natuur geword.
Ons raak baie meer harstogtelik oor rugby as oor die diskriminasie, verengelsing, plaasmoorde en ander onregte wat ons moet verduur. Soos my emigrantevriend dit stel: “Ná die plaasmoord gaan ons begrafnis toe; ons huil ‘n bietjie en daarna is alles weer reg.”
Historici en sielkundiges gaan nog in die toekoms boeke vol skryf oor die soort psigopatie of masochisme waarin Afrikaners kollektief versink het. Ons taal, kultuur, selfs ons lewens, traak ons skynbaar nie meer nie.
Daarom is ek daarvan oortuig dat ons toekoms in die hande van ‘n baie klein groepie mense verkeer. Soos ek ‘n tyd gelede geskryf het, is ons amper weer terug in 1877 toe die breë bevolking – en veral die winkeliers wat wou geld maak – Sir Theophilus Shepstone se anneksering van die Transvaal aanvaar en goedgepraat het. Net Paul Kruger en ‘n klein groepie rondom hom het dit nie aanvaar nie. Sonder geld of werklike steun, het hulle met die Britte oor hul verlore vryheid gaan argumenteer.
Eerskomende Dinsdag gaan die sanger Bobby van Jaarsveld blykbaar ‘n betoging by die Uniegebou teen geweld lei. Daar was al vele sulke betogings en soos gewoonlik sal ‘n klein groepie gemotiveerdes opdaag, terwyl die res aangaan asof niks met ons lewens skort nie.
Om Pieter Mulder se vraag in sy boek te beantwoord: Afrikaners kan nie toi-toi nie. Ons sal ‘n ander terrein van stryd moet kies.
Daarom spook die gedagte van strategiese hofsake wat hier en internasionaal gevoer word reeds geruime tyd by my. Onlangs het die ANC, ondanks ‘n span slim Joodse advokate soos Gilbert Marcus of Matthew Chaskalson wat gewoonlik regstaan om sy sake vir hom te veg, nie wonderlike sukses in die howe behaal nie. Hoewel, in die tagtigerjare toe die Defence and Aid Fund in die geheim sy Sweedse en Britse geld na die linkse advokate van die Johannesburgse Balie gekanaliseer het, het die ANC bewys dat die regstelsel gebruik kan word om die staatsgesag te ondermyn. Op ‘n stadium in die tagtigerjare het die helfte van Johannesburg se 600 advokate blykbaar vir die ANC gewerk om politieke hofsake in die howe te voer. Dink maar aan Sydney Kentridge se vertoning tydens die Steve Biko-debakel.
Natuurlik het Helen Zille en haar redakteur by die Rand Daily Mail, die Afrikanerhater Alistair Sparks, ‘n sleutelrol gespeel om die omstandighede van Biko se dood wêreldkundig te maak, maar sonder Kentridge se vertoning in die hof sou die NP-regering nooit so ‘n propagandaneerlaag gesmaak het nie.
Solidariteit en Afriforum het tot dusver ook die howe goed gebruik om byvoorbeeld Julius Malema se “Kill a Boer”-liedjie verbied te kry. Maar op ‘n manier was dit almal “veilige” sake, sonder risiko. Watter regter gaan in elk geval ‘n uitspraak lewer dat dit in die haak is om rassegevoelens in Suid-Afrika met sulke liedjies op te sweep? Hoewel ek die dag daar by die Johannesburgse Hooggeregshof was om aan te hoor hoe Gilbert Marcus, broer van die Reserwebankgoewerneur Gill Marcus, met bak arms argumenteer dat “die liedjie nie letterlik opgeneem behoort te word nie”.
‘n Meer intellektuele en aktivistiese organisasie soos PRAAG behoort egter die regstryd veel verder te voer, om ook die filosofiese grondslae van hierdie hele bestel aan te val. Die volkereg is aan ons kant. Maar ook, op ‘n manier, die Grondwet.
Dr. Pieter Mulder, wat deurentyd kontak met ANC-ministers het, het onlangs voor die Kaapse Persklub gesê dat die ANC vas van plan is om die Grondwet te verander aangesien daar volgens hulle “tragiese beperkings” daarin bestaan. Hulle sou eenvoudig op blanke eiendom beslag wou lê, sonder grondwetlike beslommernisse.
Terwyl die Grondwet nog in sy huidige vorm bestaan, voel ek ons moet dit gebruik om bepaalde beginsels erken te kry, wat vir die Afrikaner op die duur selfbeskikking kan bewerkstellig. Selfs kulturele selfbeskikking in die vorm van eie skole, universiteite en hospitale, sal tans ‘n daadwerklike verskil aan ons lewens kan maak.
Nou hoor ek onmiddellik ‘n koor stemme wat opgaan en sê: maar die Afrikaner wil nie selfbeskikking hê nie! Hy is tevrede om vir die DA se ietwat meer afgewaterde vorm van sosialisme en “nasiebou” te stem en die ongerief van korrupsie, geweld, regstellende aksie en hoër plaaslike belastings te verduur.
Selfs al verkies die meerderheid Afrikaners onvryheid en oorheersing, is daar steeds ‘n minderheid (200 000? 500 000? een miljoen?) wat nie bereid is om van alles waarvoor ons voorouers geveg het, afstand te doen nie.
Al is daar net tien of twintig Afrikaners oor wat hulself as draers van die Afrikaner se vryheidstrewe beskou, is dit genoeg om ‘n aansoek in die Grondwethof of in allerlei internasionale howe te bring. Immers beskik ons, by wyse van die feit dat ons Afrikaans praat en van die pioniers en Boere van die republieke afstam, oor locus standi.
Ons hoef ook nie een, groot saak te gaan veg waarvan alles afhang en wat tienmiljoene rande mag kos nie. Ons kan klein begin, deur bloot die regte beginsels op skrif te formuleer en die howe te versoek om erkenning daaraan te verleen.
Ook moet ons by die taal begin. Dat ons daarin geslaag het om Afrikaans ‘n nasionale gesprekspunt te maak, moet as een van die Afrikaner (en PRAAG) se weinige suksesse oor die afgelope twee dekades gereken word. Afrikaans definieer ons en grens ons van die res van die land se bevolking af.
PRAAG gaan hiermee die voortou neem, net soos dit twaalf jaar gelede met die taalstryd die geval was.
Net vanoggend twiet ek op Twitter en laat val iets op Facebook oor Jan Smuts. By die skryf hiervan, tref dit my dat alles wat die Nasionale Party in die twintigste eeu vir die Afrikaner verkry het, soos eie skole, toegang tot die staatsdiens, erkenning vir ons taal en kultuur, ens., deur die Nasionale Party self in 1994 tot niet gemaak is.
Al regte wat daar vir ons oorbly, is ons universele regte binne die volkereg. En natuurlik was Smuts een van die stigters van die Verenigde Nasies en het hy ‘n groot rol gespeel om die volkereg ná die tweede wêreldoorlog te vestig…
Is dit nie ironies dat Smuts, die groot Sap, dalk só die grondslag vir blanke oorlewing gelê het, eerder as die Nasionale Party wat op die ou end alles waarvoor hy gestaan het oorboord gegooi en ons volledig aan die genade van die ANC oorgelaat het nie?
Die Suid-Afrikaanse Grondwet is vir my vol allerlei foute, verkeerde terme (soos “gemeenskappe”) en teenstrydighede, maar gelukkig is dit ook ondergeskik aan die volkereg en die internasionale konvensies wat die ANC-regering almal onderteken het. Die spook van Jan Christiaan Smuts en sy formidabele intellek dwaal steeds deur die Verenigde Nasies. Hy was tegelyk regsgeleerde, wetenskaplike, filosoof en liefhebber van Goethe en Walt Whitman se poësie.
‘n Mens kan nie ‘n intellektuele debat in die Suid-Afrikaanse politiek voer nie. Eerstens is daar Naspers wat die Afrikaanse media beheer en so iets nie sal toelaat nie. Die parlement is ‘n plek waar mense slaap, laat kom of glad nie opdaag nie.
Die enigste oorblywende plek waar ‘n mens min of meer politiek volgens Westerse of beskaafde reëls kan bedryf, is die howe. Die ANC beheer die staatsdiens, die polisie, die weermag en die parlement. Die een staatsinstelling wat hy nie volkome beheer nie, is die howe. Vandaar sy versugting dat die howe spoedig “getransformeer” moet word.
PRAAG en sy regspan berei tans ‘n hofaansoek voor waarin ons ons op sowel die Grondwet as die volkereg sal beroep.
Miskien verkry ons iewers uit die buiteland steun vir so iets, soos wat die ANC vir sy hofsake rojaal van oorsee befonds is. Maar ons kan nie daarop reken nie. Om die proses aan die gang te kry, sal daardie minderheid vryheidsgesinde Afrikaners so ‘n aksie moreel en finansieel moet ondersteun. Eintlik is dit ons enigste hoop.
