“Ons kon nie ‘n ander verslag geskets het nie,” het die psigiater Torgeir Husby, wat saam met Synne Sorheim tot die slotsom gekom het dat Breivik aan paranoïese skisofrenie ly en psigoties is, gesê.
Die bevindinge van Husby en Sorheim, wat in November gepubliseer is, is deur ander kenners bevraagteken en het openbare protes uitgelok.
Hul diagnose stel voor dat Breivik nie verantwoordbaar vir sy dade is nie en dat hy in ‘n veilige psigiatriese fasiliteit gehou moet word as hy skuldig bevind word, eerder as om tronk toe gestuur te word.
“Dit sou ‘n voordeel gewees het om hom [Breivik] meer te laat praat, aangesien hy sy eie grootste vyand is. Sodra hy sy mond oopmaak kom mense agter iets is fout,” het Husby aan die Oslo-streekshof gesê.
Husby en Sorheim sê Breivik het sy gedrag “aangepas” as dit vergelyk word met ‘n onderhoud wat hulle met hom gevoer het terwyl hy in aanhouding was.
“Hy is nie dom nie. Hy reageer op reaksies op sy sieninge,” het Husby gesê.
Sorheim sê een van Breivik se delusies wat hulle geïdentifiseer het, was sy “bewering dat hy die reg het om te besluit wie sal lewe of doodgaan.”
Breivik hou vol dat 80% van die gesprekke in die verslag “opgemaak” is, maar Sorheim sê hulle het die feite voorgelê “soos dit is”.
