“Al ons kwessies is daar vasgesluit in seksie 25 van die Grondwet,” het Ronald Lamola, adjunkpresident van die ANCJL, aan verslaggewers gesê in Centurion, Pretoria.
Die ANCJL het beleid bespreek by ‘n werkswinkel oor die naweek voor ‘n ANC-beleidskonferensie later vandeesmaand. Die liga het besluit ‘n “minister van grondonteiening sonder vergoeding” moet aangestel word.
Seksie 25 van die Grond verwys na eiendomsregte en stippel voorwaardes uit vir die onteiening van grond met vergoeding.
Lamola het gesê die ANC moet nie jammer daarvoor sê dat hulle die grondwet verander nie – wat ‘n twee-derdes meerderheid in die parlement benodig.
“Die ANC moet seksie 25 wysig sonder om om verskoning te vra aan enige belegger of enigiemand… die ANC moet sy eie grondwet wysig wanneer dit nodig is,” het hy gesê.
As wit Suid-Afrikaners nie grond aan arm swart mense oorhandig nie, kan grond gegryp word soos in Zimbabwe, het hy gewaarsku.
“Die aard van die ongelykhede… hulle skep ‘n situasie waar dit onmoontlik is vir ons om stabiliteit vol te hou,” het Lamola gesê.
Die ANCJL is nie ten gunste van ‘n jeugloonsubsidie nie en het gesê hy wil eerder ‘n werksoek-subsidie sien.
Dit sal behels dat werklose jongmense gevoed word sodat hulle die energie het om te studeer en na werk te soek. Lamola het gesê dít het in Brasilië gewerk.
Hy het gesê die nasionalisering van verskeie sektore van die ekonomie is onafwendbaar.
“Die hele wêreld beweeg in die rigting van nasionalisering… nasionalisering is onafwendbaar. Elke samelewing wat ernstig daaroor is om ongelykhede te verander… is besig om te nasionaliseer…”
Ondanks die ANCJL se oënskynlike disorganisasie, met drie van sy top-vyf-leiers wat geskors is, het Lamola gesê die liggaam is steeds invloedryk binne ANC-strukture.
“Die Jeugliga is steeds ‘n baie invloedryke liga en ‘n kritiese liggaam van mening… dit bly ‘n baie belangrike organisasie.”
Dit beteken die ANCJL sal ‘n verandering in leierskap by die ANC-verkiesingskonferensie in Mangaung in Desember beïnvloed, het hy gesê.
“Verandering by Mangaung is onafwendbaar… die ANCJL gaan die beleidskonferensie van die ANC beïnvloed,” het Lamola gesê.
