Jacob Pantsi Mmekwa (32) van Stinkwater het Maandag erken hy het sy 68-jarige werkgewer, Sarel Koekemoer, vermoor, maar het ontken dat hy hom van ‘n selfoon en vuurwapen beroof het.
‘n Tweede beskuldigde, die 21-jarige Levy Mthombeni, het erken dat hy op die toneel was en gesien het hoe Mmekwa Koekemoer doodsteek, maar het enige betrokkenheid by die moord of die roof ontken.
Koekemoer se dogter, Anja Swart, het getuig dat sy haar pa se lyk in sy badkamer gevind het nadat sy ondersoek gaan instel het, aangesien hy nie vir ete by haar huis opgedaag of sy telefoon geantwoord het nie.
Mmekwa het in ‘n pleitverduideliking gesê Koekemoer het nie sy salaris betaal nie en hy het leë beloftes gemaak om hom te betaal.
Dit het daartoe gelei dat sy vrou hom daarvan beskuldig het dat hy die geld uitgedrink het.
Op die dag van die misdaad het hy soos gewoonlik werk toe gegaan en ‘n sloot begin grawe, maar hy het Koekemoer toe oor die salaris gekonfronteer.
Hy was verras toe Koekemoer hom daarvan beskuldig het dat hy ‘n slypmasjien en ‘n boor gesteel het. ‘n Argument het gevolg.
Hy het beweer Koekemoer, wat met ‘n tuisgemaakte mes gewapen was, het probeer om sy honde op hom los te laat, hom aan die hemp gegryp, hom ‘n “k****r” genoem en gesê hy sal hom doodmaak.
“‘n Struweling het gevolg en ek het daarin geslaag om die mes by die oorledene af te vat.
“Hy was nou ongewapen, maar ek was woedend en het met die mes na hom geslaan. Die mes het hom iewers in sy keel getref,” het hy gesê.
Mmekwa het gesê hy het die perseel verlaat toe Koekemoer by sy huis ingehardloop het en nie weer teruggekeer het nie.
Mthombeni het egter ‘n totaal ander storie vertel in sy pleitverduideliking.
Volgens hom het Mmekwa hom gevra om hom daardie dag na Koekemoer se huis te vergesel.
Hulle het gaan drink nadat Koekemoer Mmekwa weggestuur het, maar hulle het later teruggekeer.
Mmekwa het die huis binnegegaan terwyl Mthombeni sigarette gaan koop het. Toe hy teruggekeer het, het Mmekwa hom by die huis ingenooi en gesê hy het Koekemoer vermoor, wie hy in die kombuis sien lê het.
Volgens Mthombeni het Mmekwa hom met ‘n vuurwapen gedreig en aan hom gesê om die huis te deursoek.
Toe hy teruggekeer het, het hy gesien hoe Mmekwa die oorledene na die badkamer sleep, op hom sit en hom in die nek steek.
Hy het gesê hy wou seker maak sy slagoffer is dood, aangesien die man hom geken het.
Die verhoor duur voort.
