Fotograaf Marco di Lauro wat die BBC se foto geneem het, sê hy het amper “van van sy stoel afgeval” nadat die foto op die Britse netwerk se webwerf verskyn het met ‘n opskrif wat lees: “Foto van die aktivis. Hierdie beeld – wat nie onafhanklik geverifieer kon word nie – is van die liggame van kinders in Houla wat wag om begrawe te word”.
Die foto is eintlik op 27 Maart 2003 geneem, en dit toon die wit liggaamsakke met geraamtes gevind in ‘n woestyn suid van Bagdad. Die beeld wat op Marco di Lauro se webwerf gepubliseer is, is deel van sy storie oor Irak, en die nadraai van Saddam se dood.
Marco di Lauro neem foto’s vir Getty Images, ‘n foto-agentskap, en sy werke is oral gepubliseer in Europa en die VSA. Maar die aanduiding dat die BBC sy foto van die internet af geneem het, sonder om die agentskap te nader, bekommer hom ietwat.
“Ek is regtig verbaas dat ‘n nuusorganisasie soos die BBC nie die bronne vermeld nie en bereid is om enige iemand te publiseer: aktivis, ‘n burger of wat ook al,” het hy gesê.
“Iemand wat sommer net iemand anders se foto vir propagandadoeleindes gebruik,” het hy bygevoeg.
‘n BBC-woordvoerder sê die foto het Sondagaand se storie geïllustreer “Sirië: Massamoord in Houla veroordeel soos ontsteltenis toeneem,” maar hulle het dit “onmiddellik” afgehaal toe die bron geïdentifiseer is.
“Ons is bewus van hierdie beeld op die internet. […] Ons het duidelik gesê dit kon nie onafhanklik geverifieer word nie,” het hy bygevoeg.
Hierdie inligting “wat nie onafhanklik geverifieer kon word nie” het ‘n handelsmerk van mediadekking van die 14-maande-konflik in Sirië geword. Voor die VN se spesiale gesant Kofi Annan se vredesplan, was die Siriese regering reeds huiwerig vir die meeste internasionale joernaliste.
Die grootste deel van die inligting kom dus van mense wat hulself “opposisie-aktiviste” noem.
