Mohammed-spotprent weer gepubliseer

Image

Deense spotprent

Deense koerante het gister een van die 12 tekeninge van die profeet Mohammed wat internasionale woede van Moslems ontketen het, gepubliseer om protes aan te teken teen ʼn komplot om een van die spotprentkunstenaars te vermoor.

Die herpublikasie van die spotprent wat Mohammed toon terwyl hy ʼn bom vashou, het kritiek in Moslemgeledere veroorsaak waar daar gesê is dat dit net tot woede sal lei.

ʼn Deense burger van Marokkaanse afkoms en twee Tunisiërs is Dinsdag gearresteer weens beplanning om die 73-jarige Kurt Westergaard te vermoor. Westergaard is ʼn spotprenttekenaar by Jyllands-Posten, die Deens koerant wat die tekeninge in September 2005 gepubliseer het.

Vyf hoofstroomdagblaaie, 10 kleiner koerante en ʼn Sweedse dagblad het Westergaard se spotprent, wat die meeste omstredenheid veroorsaak het, geherpubliseer. Die meeste Moslems beskou enige voorstelling van die stigter van Islam as kwetsend.

“Ons meen dit is baie dwaas en help nie om brûe te bou nie,” het Imam Mostafa Tsjendid, ʼn bekende Deense Moslemgeestelike, gesê.

Tsjendid, wat imam is by die Islamitiese Geloofsgemeenskap, ʼn godsdienstige Moslemorganisasie wat ʼn sentrale rol tydens die eerste spotprentpolemiek gespeel het, het alle geweld veroordeel maar gesê dat dit moeilik sou wees om die woede wat jong Deense Moslems mag voel, te besweer.

“Dit gaan ons jongmense verder geïsoleerd laat voel,” het hy gesê. “Die druk van die spotprent verteenwoordig ʼn belediging vir ons intellektuele vermoëns. Ons is nie gekant teen spraakvryheid nie maar ons verset ons teen die konstante diskriminasie teen die Moslemminderheid in Denemarke.”

Drie Deense ambassades is aangeval en ten minste 50 mense is gedood tydens onluste in die Midde-Ooste, Afrika en Asië. Verskeie jong Moslems is sedertdien in Denemarke veroordeel weens die stel van bomme, wat gedeeltelik uit protes teen die spotprente geskied het.

Die Veiligheids- en inligtingsdiens het gesê dat Dinsdag se inhegtenisnames naby Aarhus in westelike Denemarke verrig is ná langdurige dophouding om ʼn moord te verhoed wat in die vroeë stadium van beplanning was.

Volgens die Deense media is ʼn man van Marokkaanse afkoms vrygelaat maar hy staar voorlopige klagtes in die gesig terwyl twee Tunisiërs later vandeesweek gedeporteer sal word.

ʼn Hoofartikel in die linkse blad Politiken het die moordkomplot as ʼn aanval op Denemarke se demokratiese kultuur bestempel. “Ongeag of Jyllands-Posten destyds hul spraakvryheid onverantwoordelik uitgeoefen het met skadelike gevolge, verdien die koerant onvoorwaardelike solidariteit as dit met terreur bedreig word,” het dit gesê.

Intussen is dit verlede maand berig dat Denemarke se nasionale biblioteek die risiko van ʼn internasionale storm geneem het deur spotprente van die Profeet in hul versameling op te neem.

Die koninklike biblioteek in Kopenhagen, wat in die 17de eeu deur Koning Frederik III gestig is en vele geskiedkundige skatte huisves, het verklaar dat die tekeninge van historiese waarde is en hy gaan poog om hulle te bekom vir “bewaringsdoeleindes”.

Die biblioteek, wat wyd erken word as die belangrikste in die hele Skandinawië, het ingestem om die karikature op te neem namens die Deense museum vir spotprentkuns, het ʼn segsman aan die Kunskoerant gesê.

Onderhandelinge met die kunstenaars agter die 12 spotprente is blykbaar op ʼn gevorderde stadium. Verskeie van hulle het ingestem om die werke gratis te skenk maar die museum mag verplig wees om vir ander te betaal. Een is reeds aan ʼn privaatversamelaar verkoop.

Jytte Kjaergaard, ʼn woordvoerder vir die biblioteek, sê dat dit onwaarskynlik  is dat die spotprente in die openbaar uitgestal sal word en het benadruk dat die besluit nie bedoel is om omstrede te wees nie.

“Ons stel nie in ʼn tentoonstelling belang nie, maar bloot om hulle te bewaar vir toekomstige geslagte want hulle het in Denemarke geskiedenis gemaak,” het sy gesê. “Hierdie is die mees ooglopende plek om hulle te hou want ons het al die veiligheidsmaatreëls in plek. Dit sou baie moeilik wees vir ʼn privaatpersoon om in te kom en hulle te saboteer want ten einde toegang tot hulle te verkry vir navorsingsdoeleindes sal mens ʼn brief van jou universiteitsprofessor nodig hê. Hulle sal soos enige kosbare boek behandel word.”

полиграф днепропетровскЛобановский

Maak 'n opvolg-bydrae