SA het nuwe politieke model nodig

ImageOud-minister Pik Botha het verlede jaar op 14 Julie 2007 ʼn debat ontketen met sy stelling dat “die ANC vir ons gelieg het” tydens die Kemptonpark-onderhandelinge in die vroeë negentigerjare. Ook mnr. F.W. de Klerk het op dieselfde tydstip ʼn verklaring uitgereik waarin hy meen dat “die huidige toepassing van regstellende aksie strydig is met dit waarop destyds in die grondwetlike onderhandelings ooreengekom is”.

In reaksie op die huidige elektrisiteitskrisis, het mnr. Pik Botha verlede week in Rapport sy kritiek op die huidige bedeling verhewig deur te beweer dat ons land “op die Zimbabwe-pad” is.

Die logiese stap wat nou behoort te volg, is dat sowel oud-president FW de Klerk as sy destydse onderhandelaar, Roelf Meyer, mnr. Botha se verklaring behoort te beaam en die grondwet van 1996 behoort te verwerp.

Vir sommige mense klink dit miskien radikaal. Maar ons moet onthou dat daar na twaalf jaar van die nuwe grondwet geen teken is dat dit ewewigtig toegepas word nie. Nie net is byna elke reg wat daarin vervat is, soos eiendomsreg, die reg op ʼn eie taal en kultuur, asook die gelykheidsklousule, subtiel gekwalifiseer om blankes uit te sluit nie, maar selfs ons oorblywende papierregte word elke dag vertrap deur misdaadbendes, asook die regering en die staatsdiens self.

Een van die skokkendste gebeure onlangs was die onderwysdepartement onder Naledi Pandor se besluit om die Hoërskool Ermelo te dwing om Engelse leerlinge in te neem – ondanks ʼn ander skoolgebou op Ermelo wat leegstaan! Die hoof, mnr. Koos Kruger, is summier geskors en word tans aan ʼn dissiplinêre verhoor onderwerp omdat hy gepoog het om die Afrikaanse taalbeleid van sy skool te handhaaf.

Die Ermelo-geval het ook gedemonstreer dat ons regbank nie meer onafhanklik is nie, want ná ʼn aanvanklike uitspraak deur ʼn blanke regter ten gunste van die skool se taalbeleid, is ʼn nuwe regbank bestaande uit twee swart regters en ʼn Indiër inderhaas aangestel. Dieselfde saak is weer verhoor met die “gewenste” uitspraak vir die onderwysdepartement, naamlik dat dat ʼn skool se beheerliggaam, asook die taalgemeenskap wat dit verteenwoordig, voortaan ondergeskik sal wees aan ʼn toenemend totalitêre en inmengerige ANC-staat.

Voeg hierby Zuma se klinkende oorwinning in Desember met al hoe meer linkse of sosialistiese geluide wat uit sy kamp kom en ons staan op die vooraand van moontlike radikale verandering in die land en die verdieping van die sogenaamde “nasionale demokratiese revolusie”.

Soos ek al vele kere geargumenteer het, druis die teenwoordigheid van die Afrikaner, asook die Engelse blankes, in ons land in teen die gang van die Afrikageskiedenis oor die afgelope sestig jaar. In sowel Engels- as Franssprekende Afrika is Westerse minderhede uit feitlik elke staat verdryf, dikwels tydens revolusies, burgeroorloë of gevalle van openbare oproer. Die 500-jarige teenwoordigheid van die Portugese in Angola het nie die MPLA-bewind daarvan weerhou om daardie gemeenskap uit hul land te sit nie.

Ongelukkig het die NP in die vroeë negentigerjare dié historiese feit verontagsaam en ʼn naïewe Anglo-Amerikaanse model van multikulturele konstitusionalisme as die wondermiddel vir Suid-Afrika se probleme aangegryp. Dat die Kemptonparkgeslag vroeër of later ontnugter sou word deur transformasie en die ligte wat kort-kort afgaan, spreek byna vanself.

Suid-Afrika kort ʼn nuwe model wat nóg ʼn terugkeer na apartheid, nóg die voortsetting van die lekkergeloof in Afrikademokrasie behels. Ongelukkig gaan Pik Botha se gedagte van ʼn blote gesprek met die ANC niks doen om ons magteloosheid aan te spreek nie. In Afrika word daar gepraat totdat die perde horings kry, maar min oplossings gevind. Die ANC beskik reeds oor die staatsmag; deur transformasie is hy besig om ook die ekonomiese mag in sy hande te konsentreer. Ons beskik oor geen hefboom soos getalle of eksterne bondgenote om hom te stuit in sy sug na meer en meer mag wat uiteindelik die infrastruktuur en die ekonomie van die land gaan verteer na die voorbeeld van Zimbabwe nie.

Kom ons erken dit maar, saam met mnr. Pik Botha en mnr. F.W. de Klerk: ons situasie is haglik. Maar alles is nie verlore nie, want ons beskik steeds oor een wapen wat met vrug gebruik kan word en dit is om die legitimiteit van die huidige stelsel af te takel. Net soos wat die UDF, die Anglikaanse Kerk en die Marxistiese Engelse akademici in die tagtigerjare die legitimiteit van P.W. Botha se driekamerparlement afgetakel het. Onlangs het ons in Kenia gesien hoe blote meerderheidsregering deur ʼn “heerserstam” soos die Kikoejoe nie meer genoeg is om die internasionale gemeenskap tevrede te stel nie. Sowel Amerika as die VN eis nou magsdeling tussen etniese groepe in Kenia.

Waarom kan dieselfde nie ook in Suid-Afrika geld nie? Waarom moet die heerserstam van Ngunigroepe soos die Xhosas en Zoeloes ons land bly regeer totdat daar niks van oorbly nie? Die hele wêreld – selfs ons historiese vyand, Groot Brittanje – erken die Afrikaner as ʼn inheemse volk of nasionale minderheid in dié streek. Indien ons die 1994-bestel op kritiese, denkende wyse verwerp omdat dit lei tot omgekeerde diskriminasie, asook die verval van ons staat en sy infrastruktuur, sal daar wel internasionale druk op die ANC kom om die ontevrede minderheid in sy midde tegemoet te kom.

Tydens toekomstige onderhandelinge met die ANC, moet ons sowel magsdeling as ʼn eie grondgebied eis. Vele mense skram weg van territoriale outonomie vir die Afrikaner, maar op die duur verteenwoordig dit ons enigste langtermynversekering vir voortbestaan op hierdie genadelose kontinent waar die mens vir die mens so dikwels ʼn wolf is.

Waarskynlik het mnre. Pik Botha en F.W. de Klerk reeds die bal aan die rol gesit met hul uitsprake oor die wanpersepsies wat daar in 1994 aan beide kante gegeld het. Voortaan moet die 1994-bestel aan verdere en grondige kritiek onderwerp word totdat die VSA, die EU en die VN daarvan kennis neem dat ons iets beters vir die land en vir onsself as heerserstamdiktatuur wil hê.

Hierdie rubriek het in effens gewysigde vorm in Rapport verskyn op 10 Februarie 2008. 

купить латки камерные круглыеалександр лобановский харьков

Maak 'n opvolg-bydrae