Die Twitterstorm wat Kony 2012 veroorsaak het, het gelei tot die toetrede van Amerikaanse magte in sentraal-Afrika.
‘n Weermagbeampte in Oeganda sê magte in dié land het ‘n senior bevelvoerder van Joseph Kony se Lord’s Resistance Army in hegtenis geneem ná ‘n kort skermutseling met rebelle naby die grens met die Sentraal-Afrikaanse Republiek.
Lt. kol. Abdul Rugumayo het Sondag gesê Caesar Acellam is Saterdag vasgetrek saam met twee ander rebellevegters.
Volgens Rugumayo was hulle in ‘n groep van sowat 30 LRA-rebelle. Die res het ontsnap.
Hoewel Acellam nie een van die LRA-bevelvorders is wat in 2005 saam met Kony by die Internasionale Strafhof aangekla is nie, het beamptes in Oeganda gesê hy was Kony se top-militêre strateeg.
Kony het onlangs die fokus van wêreldwye belangstelling geword nadat die Amerikaanse organisasie Invisible Children ‘n aanlyn-video versprei het om hom bekend te maak en die skakel via Twitter versprei het.
Amerikaanse troepe help troepe in Oeganda om Kony en sy top-luitenante op te spoor.
