“Solank as die regering nie bereid is om met ons te praat oor landboukwessies nie, is ons nie werklik daarin geïnteresseerd om agter toe deure met enige ANC-rolspelers te praat nie,” het Louis Meintjies, president van TLU SA, in ‘n verklaring gesê.
“Om dit te doen, sal TLU SA van sy eie lede vervreem.”
ANC-leiers sal luidens berigte Dinsdag met ‘n groep Afrikaanses waaronder akademici, kerkleiers en verteenwoordigers van kulturele organisasies vergader.
TLU SA het gesê hy het met regeringsleiers probeer vergader om landboukwessies te bespreek.
Die unie het probeer om afsprake te maak met president Jacob Zuma, die minister van watersake, die minister van vervoer, met die polisie en met die polisiekommissaris.
“Ons pogings om enige afspraak te kry was tot dusver vrugteloos,” het Meintjies gesê.
“Dit skep onafwendbaar binne georganiseerde landbou die persepsie dat die regering onsensitief is vir boere en hul probleme.”
Hy het gesê die ANC kan net homself blameer as enige vervreemding ontstaan. Die enigste manier om die probleem op te los, is deur te begin om te voldoen aan die vereistes van ‘n verantwoordelike regering.
“Hierdie sal die eerste stap wees om vertroue te wen,” het Meintjies gesê.
