“Die SOE sal spesifiek gevra word om ondersoek te doen na die ooreenkoms in maatskappye wat deel is van die konsortium wat die e-tolstelsel tender bekom het en die maatskappye, filiaalmaatskappye en aandeelhouers van die maatskappye wat kontrakte in die wapenaankope-transaksie van 1999 gekry het. Dit is belangrik om vas te stel of daar enige onbehoorlike beinvloeding was wat daartoe gelei het dat dieselfde maatskappye sulke groot tenders van die SA regering ontvang het. Die SOE sal ook vesoek word om vas te stel of daar ‘n onbehoorlike voordeel aan hierdie maatskappye gegee is weens hul historiese kontakte met die ANC regering,” het Adv. Alberts bygevoeg.
“Die VF Plus het kennis geneem van die hoof van SANRAL, mnr. Nazir Ali se stellings dat die tender proses “‘n volledige proses was” en “skoon en deursigtig en in terme van die Fiskus se vereistes onderneem was”, maar dit blyk op die oppervlak dat die inligting oor lede van die konsortium wat die tender ontvang het en ook betrokke was by die wapenaankope-transaksie, nie van meet af aan die publiek vooropgehou is nie. SANRAL moes bewus gewees het van die kontroversie rondom die bewerings van omkopery en bedrog wat in SA en internasionaal gemaak is teen maatskappye wat die wapenkontrakte bekom het en moes daarom twee keer gedink het voordat die e-tolstelsel-tender aan hulle toegeken is,” meen Alberts.
Net soos in die geval van die wapentransaksie kos die e-tolstelsel Suid-Afrikaanse belastingbetalers miljarde rande. Daarom moes daar groter omsigtigheid gewees het met die toekenning van tenders aan internasionale maatskappye wat winste nie in die land terugploeg nie en wat tot hede nie hul Nasionale Industriële Deelname ooreenkomste in die wapenstansaksie met SA nagekom het nie. Die ondersoek deur die SOE sal daarom kan vasstel of enige maatskappye onbehoorlike voordele ontvang het met die toekenning van die tender vir die e-tolstelsel.
