Malema voel soos gebruikte toiletpapier of kondoom

Die geskorste leier van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, het gesê die ANC het hom vir die party se eie doeleindes gebruik en hom toe weggegooi, is Donderdag berig.

eNews het berig dat Malema aan ‘n saamtrek van die Vriende van die Jeugliga in Mthatha in die Oos-Kaap gesê hy is misbruik deur die ANC se leierskap.

“Dié van ons wat lojaal gebly het en dié van ons wat verraderlike plekke betree het deur die ANC te verdedig… vandag wil hulle ons nie hê nie,” het hy gesê.

“Ons word gebruik soos toiletpapier wat in die toilet afgespoel word. Ons word soos kondome gebruik – dié wat kondome gebruik sal weet hoe kondome werk, hulle gebruik dit en dan gooi hulle dit iewers anders weg,” het hy gesê.

Die ANC-Jeugliga het hom gedistansieer van die nuut gevormde Vriende van die Jeugliga. Die groep is geskep om ‘n platform vir Malema te bied ná sy permanente skorsing uit die ANC.

Die jeugliga se provinsiale woordvoerder, Nathi Nomatiti, het Woensdag aan City Press gesê die provinsiale uitvoerende komitee in die Oos-Kaap het hom gedistansieer van die groep omdat hy niks van die groep weet nie.

Malema is aanvanklik vir vyf jaar uit die party geskors nadat hy verdeeldheid in die party gesaai en die party in oneer gebring het.

Hy het geappelleer, maar sonder sukses. Op 29 Februarie is daar aangekondig dat hy permanent uit die party geskors is.

Hy het weer geappelleer, maar dié appèl is op 24 April deur die ANC se nasionale dissiplinêre appèlkomitee verwerp.

Фильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae