In die lig van die ekonomiese probleme in Europa en die probleme wat Suid-Afrikaanse produsente ondervind om groter toegang tot landboumarkte in Europa te kry, moet nuwe markgeleenthede na byvoorbeeld die Ooste gevind word. Dit moet gedoen word sonder om die huidige Europese markte te verloor, volgens Mulder. Hy het teen hierdie agtergrond die groter markverspreiding verwelkom as ‘n gesonde bemarkingstrategie met die oog op die toekoms.
Hy het ook daarop gewys dat Suid-Afrika nie kan bekostig om enige landboukundigheid te verloor nie. In hierdie verband het hy verwys na Suid-Afrikaanse landbouers wat na ander lande vertrek.
“Dit is belangrik dat die Suid-Afrikaanse bevolking die waarde van ons eie kommersiële boere moet begin besef. Eers dan sal almal saamwerk om die verlies aan sulke landboukundigheid na ander lande te stop,” het dr. Mulder gesê.
