Taylor-verhoor is ‘Westerse slagyster vir swart leiers’

Die voormalige Liberiese president Charles Taylor se veroordeling is ‘n slagyster vir Afrikaleiers, het ‘n woordvoerder vir die Taylor-gesin Dinsdag gesê.

Die 64-jarige Taylor is op 26 April skuldig bevind nadat hy rebelle van Sierra Leone bewapen het in ruil vir “bloeddiamante”. ‘n Vonnis word op 30 Mei verwag.

Hy het tereggestaan op 11 aanklagte van moord, verkragting, die werwing van kindersoldate en seksuele slawerny gedurende oorloë wat in Liberië en Sierra Leone gewoed het, en wat uiteindelik die lewens van 50 000 mense geëis het.

“Ons glo die verhoor en daaropvolgende veroordeling van mnr. Taylor is ‘n slagyster wat Westerse leiers vir Afrikaleiers gestel het,” het Sando Johnson, ‘n Liberiese politikus, aan AFP gesê.

Johnson het gesê Afrikaleiers wat na Westerse magte wil uitreik, sal dit berou.

Hy het ook voorspel dat Taylor nie ‘n swaar vonnis opgelê sal word nie en het gesê Taylor se kamp is bereid om vergoeding aan te bied aan Sierra Leone se oorlogslagoffers.

“Mnr. Taylor gaan nie ‘n lewenslange vonnis of die doodstraf opgelê word nie, en wanneer hy gevonnis word, sal dit nie vir lank wees nie.

“Indien die mense van Sierra Leone besluit om vergoeding van Liberië te eis, sal ek een van die leiers wees wat sal opstaan en verseker dat Liberië die geld aan Sierra Leoners oorbetaal.”

Александр Фильчаков Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae