Die Cape Times het berig dat 784 mense ‘n petisie geteken het vir Gonzaga Universiteit in Washingtonstaat om sy uitnodiging aan Tutu terug te trek.
Tutu het ‘n versoek om ‘n toespraak te lewer by die universiteit se 125ste verjaarsdagvieringe aanvaar. Hy sal ook ‘n ere-doktorsgraad ontvang.
Die petisie is deur die Kardinaal Newman Vereniging, wat Katolieke identiteit in hoër onderwys steun, geloods.
Dit lui: “Alhoewel aartsbiskop Tutu wonderlike werk verrig het in Suid-Afrika, sal sy posisie oor ongebore lewe, seksualiteit, en sy minagting vir die Joodse volk, hom diskwalifiseer van die ontvangs van ‘n eretoekenning by enige instansie wat beantwoord aan die Katolieke roeping”.
‘n Teen-petisie deur die aanlyngemeenskap Faithfull America het egter reeds 12 192 handtekeninge ingesamel.
Daar word gesê op hulle webwerf dat “godsdienstige regse ekstremiste”, wat ‘n “veldtog van vrees en intimidasie op die Katolieke kollegekampusse voer, moet nie toegelaat word om Tutu stil te maak nie”.
