‘n Woordvoerder van die Soedannese weermag het vroeër beweer die mans is in hegtenis geneem omdat hulle vir Suid-Soedannese magte gewerk het.
Ashley Williams, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse staatsbeheerde Mechem, het gesê sy werknemers, ‘n Suid-Afrikaner en ‘n Suid-Soedannees, is saam met ‘n Britse VN-werker en ‘n Noorweegse burger ontvoer.
Williams het bewerings van ‘n Soedannese weermagswoordvoerder, dat die mans saam met Suid-Soedan werk in sy “aggressie” teen die noorde, verwerp.
“Dis humanitêre werk so die storie dat hulle militêre raadgewers is en hierdie soort van ding is totaal en al nonsens en nie waar nie,” het hy gesê.
“Ons doen humanitêre ontmyning op ‘n VN-kontrak en ons lede het volle VN-immuniteit. Die ontvoering het binne Suid-Soedannese grondgebied plaasgevind,” het hy aan die nuusagentskap AFP gesê, en verduidelik dat die twee mans suid gereis het tussen twee VN-basisse.
“Toe gryp hulle hulle en ry terug na Heglig met hulle, waar hulle toe beweer dat [die mans] in hierdie betwiste gebied in hegtenis geneem is, terwyl hulle nooit daar was nie.”
