Solidariteit loods veldtog oor plaasaanvalle

‘n Veldtog is van stapel gestuur om plaasaanvalle in die kollig te plaas om dit as ‘n prioriteitsmisdaad te laat klassifiseer.

Die inisiatief deur die vakbond Solidariteit, Afriforum en die Kraal-Uitgewers sal tot aan die einde van die jaar geloods word, het die organiseerders Woensdag in Pretoria gesê.

“Dit is onmoontlik om misdaad uit te wis, maar ons moet minstens kyk na kreatiewe wyses waarop plaasaanvalle getakel kan word,” het Dirk Hermann, adjunk-sekretaris-generaal van Solidariteit, gesê.

“Ons eise is eenvoudig en kan ‘n definitiewe en direkte impak hê op die manier waarop daar omgegaan word met die probleem van plaasaanvalle in Suid-Afrika,” het hy gesê.

Die veldtog het ten doel om die regering te dwing om plaasaanvalle tot ‘n prioriteitsmisdaad te verklaar.

“Intussen is daar 2 617 plaasaanvalle waarin 1 445 mense vermoor is op die rekord en dit wil voorkom of die regering steeds nie die erns van die situasie begryp nie,” het Hermann gesê.

Dit het ook ten doel om gespesialiseerde beamptes van die SAPD te hê wat veiligheidsmaatreëls in landelike gebiede sal implementeer.

“Tot op datum het daar nog niks gekom van die polisie se nuwe beloftes vroeër vanjaar oor die komende vrystelling van ‘n hersiende landelike veiligheidsplan nie,” het hy gesê.

Die veldtog het afgeskop met ‘n projek wat stories sal insamel van families wat slagoffers van plaasaanvalle was.

Die “Vertel Jou Storie”-projek sal individue toelaat om te vertel van hul ervarings tydens plaasaanvalle. Dié stories sal later vanjaar in ‘n boek gepubliseer word.

Deel van die tien-punt-plan is om plaaslike en internasionale bewustheid oor plaasaanvalle te kweek.

Daardeur sal daar ook gefokus word op gebiede wat erg geraak is deur geweld op plase en sal mense aangemoedig word om waaksaam te wees.

Solidariteit sal dit ook oorweeg om hof toe te gaan om plaasaanvalle in die kollig te plaas. Die vakbond sal ook die moontlikheid oorweeg om ‘n beoogde landelike beskermingswet saam te stel.

топкарго кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae