Romney het nou Obama in sy visier

Oud-goewerneur Mitt Romney het die Republikeinse voorverkiesings wat gister (Dinsdag) in vyf Amerikaanse state gehou is, loshande gewen en onmiddellik sy visier stewig en doelgerig op Barack Hussein Obama gerig.

“Hou net nog ‘n rukkie uit tot 6 November. ‘n Beter Amerika begin eintlik vanaand,” het hy vroeg Woensdagoggend, SA tyd, gesê nadat hy as die oorwinnaar in al vyf state aangewys is.

Sy naaste teenstander, Newt Gingrich, het aangedui dat hy sy deelname aan die wedloop om die Republikeinse party se kandidaat teen Obama te wees, oor die volgende twee dae gaan heroorweeg. Die verwagting is dat hy sal aankondig dat hy uit die stryd gaan tree.

Met sy oorwinning in Connecticut, Delaware, New York, Pennsylvania en Rhode Island. het Romney nou 844 van die vereiste 1144 afgevaardigdes, met Gingrich op 137 en Ron Paul op 79. Dit is statisties onmoontlik vir Gingrich om die vereiste getal te haal al wen hy al die voorverkiesings vorentoe. Santorum hou nog 260 afgevaardigdes, maar hy het sy uittrede reeds aangekondig en nie aan Dinsdag se verkiesings deelgeneem nie.

Met dit nou ‘n uitgemaakte saak dat hy die Republikeine se kandidaat sal wees, het Romney die fokus van sy veldtog toenemend op die stryd teen Obama geplaas. Hy het die ekonomie reeds as sy hoof verkiesingskwessie uitgewys en minder regeringsinmenging in die daaglikse lewe van Amerikaners ook as ‘n doelwit gestel.

“Daar was ‘n tyd nie so lank gelede nie toe ons as Amerikaners fier en trots kon staan. Daardie tyd sal weer na 6 November terugkom,” het hy in ‘n toespraak gesê.

Die nuusfokus in die VSA het nou ook verskuif na wie Romney se spanmaat in die verkiesing gaan wees. Romney self het al 15 moontlike kandidate vir die vise-presidentskandidatuur genoem – onder wie vier vrouens.

Onder hulle is Condoleeza Rice, wat George Bush se minister van buitelandse sake was en ook Kelly Ayote, die 43-jarige Republikeinse senator vir New Hampshire wat uit die staanspoor ‘n Romney-ondersteuner was.

Ander sterk kandidate is Marco Rubio, senator vir Florida en ook Jeb Bush, George se broer wat goewerneur van Florida was. Daar is sprake dat Rick Santorum ook ‘n moontlike kandidaat is en daar is berigte dat hy en Romney vroeg in Mei sal ontmoet en indringende gesprekke voer.

Romney sit egter steeds met die probleem dat daar Republikeine is wat nie van sy Mormoonse godsdiens hou nie, maar hulle is so ver regs dat hulle beslis nie vir Obama sal stem nie. Onderskrywing van sy kandidatuur deur Santorum, Gingrich en Ron Paul kan egter die probleem grootliks uit die weg ruim.

лобановский депутат

Maak 'n opvolg-bydrae