Een uit vier Johannesburgers betaal omkoopgeld

Een in elke vier Johannesburgse bestuurders het omkoopgeld aan die verkeerspolisie in 2010 betaal, het Corruption Watch se uitvoerende direkteur, David Lewis, Maandag gesê.

“[Die verslag asook ander opnames] toon dat een uit elke vier padgebruikers in Johannesburg al omkoopgeld betaal het,” het hy aan die media in Johannesburg gesê verwysende na ‘n opname van Statistiek Suid-Afrika in 2010.

Dit kom neer op sowat 150 000 bestuurders. Hy het verduidelik dat geen nuwe opname sedertdien gedoen is nie, maar dat die tendens waarskynlik toegeneem het sedert 2010.

“Omkopery is ‘n ernstige misdaad.”

Lewis het gepraat by die vrystelling van ‘n verslag oor korrupsie binne die Johannesburgse Metropolisie (JMPD), genaamd “The Law for Sale”.

Sleutelbevindings sluit die omvang van die probleem in en dat die owerhede dit nie erken nie.

“[Die verslag] kritiseer die JMPD daarvoor dat hulle die omvang van korrupsie binne die mag ontken. Die blote omvang van die probleem is enorm.”

Die verslag is deel van ‘n landwye anti-omkopery-veldtog, oftewel die “no more tjo-tjo”-veldtog, wat ook Maandag geloods is.

Die verslag is een van verskeie wat beplan is deur Corruption Watch om gebiede waar korrupsievlakke hoog is in die land te identifiseer. Lewis het gesê JMPD-statistieke dui daarop dat slegs 184 sake van korrupsie oor die laaste drie jaar, van 2009 tot 2011, aangemeld is. Hieruit is 37 beamptes skuldig bevind en 19 is afgedank.

Corruption Watch se aanbevelings aan die JMPD en die Stad Johannesburg is om verantwoordelikheid te neem en korrupsie aan te spreek.

JMPD-beamptes moet te alle tye sigbare identifikasie dra en hulle moet korrupsie met anonimiteit kan aanmeld.

Veld-integriteitstoetse moet gebruik word om bewyse teen korrupte beamptes in te samel.

Lewis het beklemtoon dat omkopery nie ‘n slagofferlose misdaad is nie. Dronkbestuurders of motoriste met defektiewe motors word toegelaat om op die paaie te bly nadat hulle omkoopgeld betaal het.

“Ons hoor dikwels die verskoning dat die publiek verantwoordelik is wat omkoopgeld aan verkeersbeamptes bied. Ons kyk egter op na wetstoepassingsbeamptes om betroubaar en voorbeeldig in hul gedrag te wees,” het Lewis gesê.

“Die publiek sal baie huiwerig wees om omkoopgeld aan te bied as hulle weet dat verkeersbeamptes altyd die wet sal handhaaf.”

Фильчаков прокурор харькова

Maak 'n opvolg-bydrae