Haai-aas lei glo tot branderplankryer se dood

‘n “Enorme en aggressiewe” haai wat ‘n branderplankryer Donderdag in Kaapstad gedood het, het gelei tot kritiek op ‘n Amerikaanse filmmaker. Sy permit om navorsing oor haaie te doen is ná die aanval gekanselleer.

Die dokumentêre filmmaker Chris Fischer, wat besig was met ‘n dokumentêre film vir National Geographic, het ‘n boodskap op die televisieprogram Shark Men se Facebook-blad geplaas waarin hy ontken het dat sy span verantwoordelik was vir die man se dood.

“Daar was tragiese nuus in Valsbaai vandag. ‘n Branderplankryer is deur ‘n witdoodshaai geëis. Ons gedagtes en gebede gaan uit aan die familie wat geraak word,” het hy gesê.

Fischer se span het ‘n paar dae gelede “chum” (aas vir die haaie) in dié waters gelaat om die ontwykende haaie nader aan hulle te kry om hulle te verfilming.

“Ons het meer as drie dae gelede Valsbaai verlaat nadat ons van Sondagmiddag… tot Maandagmiddag daar gewerk het… met ons 24 uur se werk… daar het ons 24 kg pilchards (sardyne) uitgegooi.”

Dit is minder as die hoeveelheid wat daagliks deur drie duikhokke losgelaat word, het Fischer gesê.

“Ons is weereens baie jammer vir hierdie familie se verlies en in hierdie tyd is ons gedagtes en gebede met hulle.”

Fischer is die afgelope maand in die land om haaie in hul natuurlike habitat te verfilm vir die dokumentêr “Shark Men”.

‘n Ooggetuie het vroeër beskryf hoe die haaie die man drie keer by Koeëlbaai aangeval het.

“Dit was soos ‘n riller-fliek. Dit het gelyk soos iets uit Jaws,” het die ervare branderplankryer Matt Marais oor die telefoon aan Sapa gesê.

“Wat ‘n lekker dag by die strand moes gewees het, was op die ou end enige branderplankryer se grootste nagmerrie en dit het binne minute, reg voor my oë gebeur.”

Die slagoffer se broer was na bewering saam met hom in die water toe die witdoodshaai, wat glo tussen vier en vyf meter lank was, hom doodgebyt het.

Die man het op sy lyfplank gelê en gewag vir ‘n brander om te ry toe ‘n vin verskyn het, het Marais gesê.

“Ek het net uit die water geklim toe ek die dorsale vin gesien het… Die haai was enorm en aggressief en het net vir hom gegaan, nie een keer nie, maar drie keer.”

Die branderplankryer het die eerste keer terugbaklei en probeer om die lyfplank tussen hom en die haai te kry. Die tweede keer het dit hom na onder getrek en die derde keer “was dit asof iemand ‘n knoppie gedruk het en die see het net rooi geword.”

Marais, wat al 19 jaar lank ‘n branderplankryer is, het gesê die haai het toe in die vlak water rondgeswem.

Die Stad Kaapstad het toe die strand, wat tussen Gordonsbaai en Rooiels geleë is, gesluit.

“Ons het die strand gesluit omdat daar steeds witdoodshaaie in die water is,” het Kylie Hatton, woordvoerder, gesê en bygevoeg dat die strand waarskynlik tot Vrydagoggend gesluit sal wees.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gesê daar was geen ander bytmerke of snye aan die man se lyk nie.

“Slegs die volmaakte amputasie van die regterbeen. Die been is nog nie teruggevind nie,” het Craig Lambinon, woordvoerder, gesê.

“Ooggetuies het aan die NSRI gesê dat een vier- tot vyf meter lange witdoodshaai in hierdie voorval betrokke was. Ooggetuies beweer hulle het ná die voorval tot ses haaie in die gebied gesien,” het Lambinon gesê.

Ná die aanval het die direkteur van Biodiversiteit en Kusnavorsing, Alan Boyd, Fischer se navorsingspermit gekanselleer.

“Hierdie voorval is ‘n groot tragedie en ek is baie geskok. Geen veldwerk sal meer van hierdie punt af plaasvind nie,” het Boyd gesê.

Aanvanklik, toe die permit toegeken is, was daar vrese dat die “chum” haaie kan lok na gewilde strande.

In dié stadium het Dirk Schmidt, ‘n wildlewe-fotograaf en die skrywer van “White Sharks”, gesê dit sal wys wees om ‘n hoërisiko haai-waarskuwing uit te reik.

Sy bekommernis was dat tot vyf ton “chum” gebruik sou word om die haaie na die boot te lok. Hy het gesê die “chum” se slyk kan ook nader aan die strand gewaai word deur sterk winde.

Die departement van omgewingsake het egter hierdie bekommernisse verwerp.

In ‘n verklaring wat Maandag uitgereik is, het die departement gesê “alarmistiese”, “misleidende en onvanpaste stellings” skep “onnodige bekommernis onder die publiek”.

Boyd het gesê die loslaat van “chum” sal min effek naby aan die strande hê.

Schmidt het Donderdag gevra vir ‘n volle, onafhanklike ondersoek na die aanval.

“Ek kan net hoop… dat daar opgetree sal word om te keer dat die onkunde van sommige individue herhaal word en dat daardie individue verantwoordelik vir hul dade gehou sal word.”

Volgens inligting op die KwaZulu-Natal Haairaad se webwerf is haai-aanvalle skaars.

Gebaseer op data wat oor 40 jaar versamel is, word ses aanvalle per jaar aangemeld tussen die grens met Mosambiek en Tafelbaai.

Noodlottige haai-aanvalle verskyn een maal in 13 maande.

Facebook-gebruikers het Fischer Donderdag op sy Facebook-blad aangeval.

“Skaam jou! P*** off! So kwaad, dis my tuiste waar dit gebeur het. Hoop jy, jou boot en jou lewe sink na die diepste dele van die oseaan…” het een persoon geskryf.

Die Wes-Kaapse polisie sê ‘n nadoodse ondersoek is geloods en die omstandighede rondom die branderplankryer se dood sal ondersoek word.

Lt. kol. André Traut het gesê al is die slagoffer se naam al in sommige media bekendgemaak en op Facebook versprei, sal die polisie sy naam eers Vrydag bekend maak uit respek vir sy familie.

Олександр Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae