Joseph Mabuza het aan The Star gesê die geskorste leier van die ANC-Jeugliga skuld hom R1 200.
Mabuza, wat Sondae vir Malema werk, sê hy is nie vir Februarie en Maart nie betaal nie.
“Ek hoop net Julius betaal my. Ek het geld by mense geleen om vir my vervoer te betaal. Ek het ook baie dinge op krediet gekoop,” het Mabuza luidens die koerant gesê.
Die tuinier, wat in Tembisa woon en gedurende die week vir ‘n ander werkgewer werk, beweer hy het elke Sondag R26 aan vervoer uitgegee om by Malema se huis te kom.
Malema het die aantyging ontken.
“Hy het vir ‘n lang tyd nie vir werk opgedaag nie en nou beskuldig hy my dat ek hom geld skuld. As ek hom geld skuld, moet hy dit kom haal. Ek sal vir hom wag,” het Malema aan die koerant gesê.
Mabuza sê hy het meer as vier jaar vir Malema gewerk.
