Die minister stel dit ook dat geen so ‘n spesifieke ondersoek gedoen sal word nie, maar dat enige ondersoek deur die departement indien daarop besluit sou word, een sal wees wat alle mense wat onder die armoedelyn leef, sal insluit. “Hierdie siening van die minister staan in skrille kontras met haar eie president wat onderneem het om na die probleem van wit armoede te kyk. Verder word daar in wetgewing op die oomblik net teen wit mans, gewoonlik ‘n gesin se broodwinner, gediskrimineer. Dit alleenlik regverdig ‘n besondere studie om vas te stel of die Wet op Billike Indiensneming se effek daadwerklik billik is, al dan nie. Die VF Plus se eie ervaring by wit plakkerskampe en onafhanklike navorsing dui aan dat daar nie bloot net ‘n korrelasie tussen regstellende aksie en wit armoede is nie, maar dat daar in vele gevalle ‘n direkte kousale verband bestaan. Dit is dus genoeg gronde vir die departement om ‘n ondersoek te loods,” het Alberts verder gesê.
Die VF Plus gaan daarom verdere opvolg vrae aan die minister rig, die regstellende aksie-navorsing onder die aandag van die minister bring en weer met president Zuma hieroor in gesprek tree. Die tyd vir die uitfasering van regstellende aksie is nou op hande.
