“As daar iets was, ja, ek sou dit gesien het,” het Gladys Lesenyego in die Hooggeregshof wat in Ventersdorp sit Woensdag gesê.
Chris Mahlangu en ‘n tiener, wie nie geïdentifiseer mag word nie, is aangekla dat hulle Terre’Blanche doodgemaak het in sy plaashuis buite Ventersdorp in April 2010.
Albei het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede. Mahlangu beweer hy het in selfverdediging opgetree. Die tiener ontken enige betrokkenheid by die misdaad.
Lesenyego het getuig dat sy omstreeks 20:20 na die toneel uitgeroep is en het die lyk net na 23:00 verwyder.
Sy het Terre’Blanche in die slaapkamer, waar hy op sy rug en met klere aan gelê het, gevind.
Die AWB-leier het blykbaar gelê en slaap toe die aanvaller hom begin slaan het.
“Chris Mahlangu het gesê Terre’Blanche het hom nie gesien of gehoor kom nie,” het lt.kol. Tsietsi Mano, ondersoekbeampte, voorheen getuig.
Mahlangu en sy minderjarige medebeskuldigde het vir Terre’Blanche gewerk.
Volgens Mano het Mahlangu ook enkele ure ná die moord op 3 April 2010 erken hy het Terre’Blanche se broek afgetrek en wou hom ontman nadat hy sy gesig verbrysel het.
“Die lyk was vol bloed en het snywonde gehad. Sy hemp was oop en die broek was afgetrek en jy kon [sy] private dele sien.”
Sy het gesê niks is aan haar gesê oor moontlike bewyse op die lyk nie. As daar enigiets was om te bewaar, sou sy dit gedoen het, het sy in die hof gesê.
“Ek sou die lyk anders hanteer het.”
Elk van die verdedigingspanne het haar kruisondervra, maar Lesenyego het volgehou dat daar geen vloeistof was toe sy die lyk gaan haal het nie. “Ek het dit nie gesien nie.”
Sy het gesê dit was ongewoon dat sy eers toegang tot die lyk kon kry meer as twee ure nadat sy gearriveer het.
“Daar is aan my gesê dat LCRC (plaaslike kriminele rekordsentrum) besig was om foto’s te neem en dat hulle nog ‘n video moet neem.”
Lt. Kol. Tsietsi Mano, ondersoekbeampte, is vroeër gevra oor vloeistof wat op Terre’Blanche se genitalieë gesien is. “Ek het nooit die lyk gesien nie,” het hy gesê.
Die lyk was reeds verwyder toe hy op die nag van die moord by die huis aangekom het. Hy het gesê hy het die lyk eers ná die lykskouing gesien.
“Ek het die patoloog gevra [of sy semen gevind het] en sy het nee gesê. Ek weet vir ‘n feit dat ek gevra het,” het Mano gesê.
Die patoloog Ruweida Moorad het in Oktober getuig dat Terre’Blanche se lyk dalk skoongevee is voordat die lykskouing uitgevoer is.
“Dalk toe [die lyk] in die lyksak vervoer is, is [die semen] afgevee. Ek weet eerlikwaar nie,” het sy toe gesê.
Die staat het haar ondervra oor haar mediese ondersoek van Terre’Blanche. ‘n Vloeistof wat vermoedelik semen was, is op foto’s wat op die misdaadtoneel geneem is, gesien.
Die vloeistof was nie sigbaar toe Moorad haar lykskouing uitgevoer het nie, maar dit was sigbaar in die foto’s.
Sy het gesê die lyk is verkoel. Haar lykskouing is op 6 April verlede jaar uitgevoer, drie dae ná die moord.
Adv. Norman Arendse, vir die minderjarige, het tydens kruisondervraging van Mano gesê indien die semen op Terre’Blanche afgevee is voordat die lyk verwyder is, beteken dit iemand het met bewyse gepeuter.
“As dit met opset verwyder is, is dit ‘n ernstige oortreding, want daardie deel van die bewyse kan uiters belangrik wees,” het hy gesê.
Woensdag het Arendse volgehou die vloeistof is belangrik vir die saak.
“As iemand daardie soort bewyse afgevee het, is dit ‘n baie ernstige ding,” het hy gesê.
Die verhoor duur voort.
