Nooddienste het na die toneel gehaas. Die brand kon erger gewees het, sê kenners, as die bemanning nie betyds van die vliegtuigbrandstof ontslae geraak het nie.
Sewe mense is beseer en drie geboue beskadig. Op ‘n perskonferensie in Virginia Beach, het vlootkaptein Mark Weisgerber gesê die ongeluk is veroorsaak deur ‘n “katastrofiese meganiese onklaarheid” kort na opstyg. Hy het ook gesê die vliegtuig is deur ‘n studentvlieënier, wat in die voorste sitplek was, en ‘n instrukteur gevlieg.
Die twee lede van die bemanning het daarin geslaag om hulself uit die straler te laat skiet voordat dit in ‘n dig bewoonde gebied in die toeriste-oord Virginia Beach vasgevlieg het, het CNN berig.
Hul toestande is egter nie bekend nie. Een van die bemanningslede is glo na ‘n hospitaal geneem, terwyl brandbestryders sukkel om die brand onder beheer te bring. Die twee was glo by die lugmagbasis Oceana gestasioneer.
“Daar was vlamme wat uit die enjin se agterkant gekom het… toe die straler laer en laer begin daal, het ek gesien hoe een vlieënier uitskiet,” het Jon Swain, ‘n ooggetuie, aan MSNBC gesê.
“Dit het die woonstelblok reg in die middel getref. En ja, dit is redelik traumaties… daar was mense wat uit die gebou uit gehardloop het.”
Daar was nog geen onmiddellike nuus oor sterftes nie, terwyl rook steeds by die woonstelblok uitgeborrel het.
In ‘n verklaring het Admiraal John Harvey, die hoof van die Amerikaanse Vloot, belowe om ‘n “volledige ondersoek na die oorsaak van die ongeluk te doen en al die inligting bekend te maak so gou as wat ons in staat is om dit te doen.”
Die straler wat neergestort het, was deel van ‘n eskader wat die vloot en Mariniervlieëniers oplei. Volgens ‘n webwerf, is die kursus gemik op die basiese beginsels van aanvalsmissies asook opstyg en landings van vliegdekskepe.
Dié model van vegvliegtuig het ook neergestort in Desember 2008 na ‘n opleidingsoefening in die San Diego-omgewing, en het die dood van vier mense gekos en twee huise vernietig.
