Dít kom nadat hy deur die ANC verbied is om in die openbaar te praat, na sy skorsing uit die ANC.
“Ek sal nooit stilgemaak word nie. Daar is niemand wat ‘n reg het om my stil te maak nie,” het Malema Vrydag volgens die Dispatch Online gesê.
“Die reg om te praat is myne sedert my geboortedag.”
Malema het by die Last Move Ministries in Butterworth opgetree.
Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANCYL, het Donderdag in ‘n verklaring gesê: “Om Goeie Vrydag te vier en die lewe van Solomon Mahlangu te herdenk, sal president Julius Malema die Twaalf Apostels Kerk in Butterworth besoek.”
Mahlangu was ‘n lid van Umkhonto we Sizwe wat in 1979 deur die apartheid-regering tereggestel is.
Malema het die kerk in sy posisie as president van die liga besoek, het Shivambu gesê.
Vroeër Vrydag het hy gesê Malema het nie by die Twaalf Apostels Kerk gepraat nie.
Volgens die Dispatch Online het Malema gesê hy was nie by die Last Move Ministries om oor politiek te praat nie.
“Wanneer alles moeilik is daar buite, is die enigste veilige plek die kerk, want in die kerk word daar nie gediskrimineer nie. Ons is hier om seëninge te ontvang.”
“Ons wil hê die kerk moet vir ons bid, want dié wat ons vriende was, het teen ons gedraai. Hulle het nie net teen ons gedraai nie, maar hulle beplan ons dood,” het hy volgens die koerant gesê.
Tydens sy besoek aan die Twaalf Apostels Kerk is Malema glo deur Andile Lungisa, voorsitter van die nasionale jeug-ontwikkelingsagentskap (Nyda), Ayanda Matiti, provinsiale voorsitter van die ANCYL, Mziwonke Ndabeni, provinsiale sekretaris en Thando Mase, lid van die nasionale uitvoerende komitee, vergesel.
Malema is Woensdag onmiddellik tydelik uit die ANC geskors deur die party se nasionale tugkomitee – ‘n stap wat hom verbied om enige plig as ‘n ANC-lid, president van die Jeugliga of ‘n lid van die provinsiale uitvoerende komitee in Limpopo op te neem.
