ANC gebruik belastinggeld vir propaganda

“Die ANC maak propaganda vir die staatsinligtingswet met my belastinggeld. Dit is totaal onaanvaarbaar om belastingbetalersgeld te gebruik om propaganda te maak vir die staatsinligtingswet nog voor die wet nog deur die Parlement aanvaar is. Dit is dringend nodig dat die Openbare Beskermer help om riglyne neer te lê oor wanneer belastingbetalersgeld vir advertensies deur staatsdepartemente gebruik mag word en wanneer nie.” Dit was die reaksie van dr. Pieter Mulder, VF Plus leier, op die publisiteitsveldtog van die departement van staatsveiligheid om Suid-Afrikaners te oortuig om die staatsinligtingswet goed te keur.

Verskillende burgerlike belangegroepe asook opposisie partye soos die VF Plus maak op hierdie tydstip nog voorleggings en oefen druk uit ten einde die wetsontwerp gewysig te kry. Hierdie groepe se belastinggeld word nou deur die departement van staatsveiligheid teen hulle gebruik om die ANC se standpunt oor die wet aan die publiek uit te dra. Dit is die misbruik maak van belastingbetalersgeld en ondermyn die demokrasie.

In lande waar daar nie riglyne is nie, misbruik regerings die staatskas vir publisiteitsveldtogte ten einde aan hulle ‘n voorsprong tydens verkiesings te gee. Geen opposisieparty kan genoeg geld insamel om daarmee te kan kompeteer nie.

In alle volwasse demokratiese lande is daar duidelike riglyne ten einde te onderskei wanneer die staat belastingbetalersgeld mag aanwend om met alle staatsburgers te kommunikeer en wanneer nie. Hierdie riglyne maak onderskeid tussen staatsinligting en party politieke propaganda. ‘n Regerende party moet sy eie partypolitieke geld aanwend om advertensies te plaas wat beleidsrigtings verkondig wat nog nie deur die parlement as amptelike staatsbeleid goedgekeur is nie. Eers wanneer ‘n wetsontwerp ‘n wet van die staat word, het ‘n regering ‘n kommunikasieplig om dit aan die burgers wat deur die wet geraak gaan word, te verduidelik Dit is duidelik nog nie die situasie in hierdie geval nie.

Die VF Plus gaan die Openbare beskermer vra om hierdie saak te ondersoek ten einde riglyne te ontwikkel oor die aanwending van die staatskas vir publisiteitsveldtogte in ‘n demokrasie. In geen moderne demokrasie is dit aanvaarbaar dat die regering belastinggeld gebruik om party politieke propaganda na die kiesers uit te dra nie. Hierdie beginsel is so ‘n ernstige gronduitgangspunt van die demokrasie dat die saak in die grondwethof kan draai.

топкарго отзыв

Maak 'n opvolg-bydrae