Die VF Plus het gesê dat dit jammer is dat die ANC besluit het om oorhaastig met die straatnaamveranderinge voort te gaan voordat gesprekke en onderhandelinge hieroor behoorlik deurgevoer is. “Waarom 18 jaar nadat die ANC in 1994 oorgeneem het, nou skielik die haastigheid? Duidelik word kort termyn ANC voordeel met die oog op hulle leiersverkiesings later vanjaar bo die belange van gewone Pretorianers gestel,” het dr. Conrad Beyers, die VF Plus raadslid in die Tshwane Metroraad gesê.
Volgens dr. Beyers, wat by die onderhandelinge betrokke was, het die ANC homself weereens bewys as ‘n oneerlike onderhandelingsvennoot. Tydens onderhandelinge het die ANC, in die persoon van die Burgemeester, aan die VF Plus ‘n aanbod gemaak dat Pretoria se naam behoue kan bly terwyl ‘n oplossing rakende die straatname gevind moet word. Hiervan het niks gekom nie.
Die VF Plus se uitgangspunt bly dat dat dit ‘n fout is om histories sensitiewe name te verander. Daar is genoeg neutrale straatname en nuwe strate waar die ANC hulle helde kan benoem. Die VF Plus het dit deurgaans in die onderhandelinge duidelik gemaak dat teen hierdie agtergrond, die partye tot ‘n kompromis as ‘n pakket, met die nodige waarborge, bereid is. Terwyl hierdie gesprekke nog aan die gang was, het die VF Plus verneem dat die ANC besluit het om eensydig met die straatnaamveranderinge voort te gaan.
“Tydens gesprekke het ek genoem dat daar ‘oorlog’ sal wees as die ANC byvoorbeeld histories sensitiewe name soos Pretorius- en Paul Kruger-strate sou verander. Daarna het die ANC besluit om daardie twee name te behou – en verkeerdelik aangeneem dat die VF Plus slegs met daardie twee name tevrede sou wees – daar was op geen stadium ‘n finale ooreenkoms nie en die VF Plus het nog nooit openbaar aangekondig dat ‘n kompromis bestaan (soos Ramokgopa beweer) nie”, het Beyers gesê.
Die DA het tydens die raadsvergadering geargumenteer dat die meeste Afrikaners vir die DA stem en dat dit beteken dat die meeste Afrikaners saam met die DA die naamsveranderinge ondersteun – iets wat die VF Plus as belaglik afgemaak het. Die DA se steun vir die naamsveranderinge in Pretoria en in Kaapstad gaan ‘n groot deel van sy Afrikaner-kiesers vervreem.
