Afriforum het ‘n video vrygestel “om die Grondwet te beskerm”. Dit sal glo dansky FW de Klerk se kontakte in die buiteland ook vrygestel word, het ‘n bron gesê.
Die Grondwet is egter sedert 1994 al ʼn paar keer gewysig omdat die ANC van meet af aan oor die nodige aantal stemme beskik het om dit te kon vermag.
Dié organisasie het nou in die sleurstroom van die DA ingeval om die Grondwet te “red”. In sy huidige gedaante beskerm die Grondwet privaat eiendomsreg, sê hulle. Volgens dr. Tertius Delport is dit egter nie die geval nie en kan enige eiendom reeds “in die openbare belang” onteien word onder die veelgeprese dokument in sy huidige gedaante.
Afriforum het ook nie aangedui hoe die Grondwet tot dusver daarin geslaag het om Afrikaners se regte te beskerm nie. Duisende Afrikaners was reeds slagoffers van plaasmoorde en haatmisdaad onder die huidige Grondwet.
Afriforum glo die Nasionale Demokratiese Revolusie gaan ‘n “tweede oorgangsfase” in Suid-Afrika begin. Hulle het geen kommentaar gelewer daarop dat die ANC se oogmerke nog nooit afgewyk het van hul oorspronklike doelstellings of dat sleutelfigure in die NP asook die NP-media, te wete Naspers, hulleself volkome vereenselwig het met daardie doelstellings nie.
Afriforum meen dat die “1994-skikking oor die wêreld heen as ʼn ooreenkoms tussen die voormalige NP-regering, die huidige ANC-regering en ander belanghebbende partye beskou word”.
Hulle sê dié skikking het in die Grondwet van Suid-Afrika neerslag gevind. “Die ANC se optrede sal dus niks anders as politieke kontrakbreuk wees nie.”
Ontleders sê dit is duidelik dat Afriforum die NP se oorgawe aan die ANC wil probeer voorstel as ‘n ooreenkoms tussen die onderskeie onderhandelingspartye. Dié ooreenkoms het egter verval toe FW de Klerk uit die regering van Nasionale Eenheid bedank het.
Die NP het destyds die blanke kiesers ‘n tweede referendum belowe alvorens drastiese veranderinge ingestel sou word. Dit het egter nooit plaasgevind nie en kiesers is met die fait accompli van ‘n politieke en militêre oorgawe gekonfronteer.
