Antraks tref glo Namibiese plaas

‘n Plaas in Namibië is onder kwarantyn geplaas nadat vier plaaswerkers siek geword het toe hulle glo vleis geëet het van ‘n koei wat op die plaas gevrek het.

Twee van die plaaswerkers is intussen dood, terwyl die ander twee steeds in die staatshospitaal op die dorp behandel word.

Hulle het vermoedelik miltsiekte (antraks) op die plaas Kroonster van die bekende suiwel- en vleisprodusent, mnr. Japie Engelbrecht, opgedoen.

Dr. John Shoopala, adjunkhoof: dieresiektebeheer in die direktoraat Veeartsenydienste, sê “geen tekens van antraks is sover gevind nie.” Hulle wil egter verdere probleme voorkom en het daarom opgetree, sê hy.

Mnr. Bennie Venter, Engelbrecht se prokureur, sê ondanks briewe aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, kon hy nog nie daarin slaag om die verslag te kry wat daarop dui dat die plaaswerkers miltsiekte opgedoen het nie.

Miltsiekte is ‘n akute, dodelike siekte en die voorkoms of vermoedelike voorkoms daarvan moet onmiddellik aangemeld word.

Miltsiekte word veroorsaak deur ‘n bakteriese organisme, Bacillus anthracis. Wanneer diere aan die siekte vrek en veral as hulle oopgesny word, kom groot getalle van die kiem, wat in die bloed en organe aanwesig is met die lug in aanraking en produseer spore wat baie sterk weerstand kan bied. Die sogenaamde spore kan baie jare lank in die grond oorleef.

Die bloederige uitloopsels by die natuurlike openinge van die liggaam sowel as die velIe, bene en vleis vorm besmettingsbronne en speel ‘n belangrike rol by die verspreiding van die siekte.

Behalwe die mens, kan gewone en bytende vlieë, aasvoëls, jakkalse en ander kleiner aasdiere as vername verspreiders van die siekte optree. Die spore, wat uiters bestand is teen ongunstige klimaatstoestande, kan ook deur reën weggespoel word en in vlak panne en damme versamel, wat dan mettertyd, veral as dit begin opdroog, gekonsentreerde bronne van besmetting word.

Diere kry gewoonlik die besmetting deur die bek in wanneer hulle besmette water drink, op besmette veld wei of aan besmette velle, bene, bloed of karkasse lek of vreet.

Mense is ook vatbaar en kan die besmetting opdoen deur wonde, of deur spore per mond in te neem of in te asem. Besmette velle kan tydens hantering dikwels as bronne van besmetting vir die mens dien.

 

Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae