Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, het Sondag ná ‘n vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee gesê die Grondwet moet as ‘n “transformatiewe” dokument beskou word.
“Dis ‘n lewende dokument. Dis belangrik dat ons [oor die bepalings in die Grondwet] praat en weer daarna kyk.”
Mantashe het art. 25, die eiendomsklousule, uitgesonder.
Mantashe voel duidelik die druk van swart verwagtinge soos verwoord deur die Jeugliga en die adjunkpresident, om wit bates te vervreem.
Volgens hom sal die kwessie oor grondbesit “hersien” moet word om herverdeling te versnel. Die aanvaarde wysheid in die ANC asook die Jeugliga is dat wit eienaars swart grond deur die bank “gesteel” het.
Mantashe het gesê die stadige herverdeling van grond moet weer ondersoek word. “As ons dit nie doen nie, sal ons die rewolusie te verraai. Gaan kyk na die struggle-geskiedenis: Grond is die basis vir elke ANC-leier se stryd.”
Die ANC sal egter glo nie ‘n “Zimbabwe-tipe” grondhervormingsbeleid nastreef nie, maar hy het bygevoeg dat “mense sonder grond, ‘n resep vir ‘n rewolusie is”.
Dave Steward het namens die F.W. de Klerk-stigting gewaarsku dat ‘n verandering aan art. 25 verreikende gevolge vir privaateiendomsbesit sal hê.
