Duitse ondernemings pessimisties oor SA korrupsie

korrupsie

korrupsieDuitse ondernemings in Suid-Afrika sien die politieke situasie in die land steeds as volhoudend swak of in ‘n verdere staat van verswakking en afname. Die algemene siening oor die ekonomie is ietwat beter as twee jaar tevore, maar ook steeds negatief.

Dit blyk uit die jongste verslag oor ‘n gereelde opname van Duitse maatskappye in die land se beoordeling van die politieke en ekonomiese klimaat wat deur die Duitse kamer van handel en nywerheid gedoen word.  Die opname is weliswaar twee jaar gelede in 2010 gedoen en aan die begin van verlede jaar hersien, maar die verslag daaroor is pas vrygestel.

Aansienlike aandag word in die verslag gegee aan die impak van die Wêreldbekertoernooi van 2010 wat in Suid-Afrika aangebied is en oor die algemeen is die siening dat die suksesvolle afhandeling daarvan die land se aansien internasionaal aansienlik verhoog het, maar twee-derdes van die maatskappye het berig dat hulle weinig voordeel daaruit getrek het.

Die algemene indeks van sieninge was in 2010 heelwat beter en meer positief as met die vorige opname in 2008, maar daardie jaar se opname het ‘n uiters negatiewe beeld van politieke en ekonomiese persepsies geopenbaar en ondanks die verbetering in die jongste opname is die algemene indeks steeds laer as die hoogtepunt wat dit in 2004 bereik het.

Fyner ontledings oor spesifieke kwessies toon soms ‘n uiters negatiewe prentjie. So was 80% van die respondente pessismisties of baie pessismisties oor korrupsie, 77% het groot kommer gehad oor die bedrewenheid en vermoë van die staatsdiens, 66% was negatief oor vertroue in politieke leiers en 60% het weer kommer aangedui oor veranderlike arbeidsregulasies en -wette.

Sowat 90% het opbrengs op hul beleggings as positief gesien en sowat 80% was ook so positief oor die vlak van mededingendheid in die ekonomie. Maar ‘n baie hoë persentasie is steeds baie negatief oor vakbonde se optrede en produktiwiteit van hul arbeidsmag en kommer het aansienlik toegeneem oor die beskikbaarheid en betroubaarheid van bekostigbare elektrisiteit.

Daar is egter groter vertroue in bestaande maatreëls om fondse na die buiteland oor te plaas en blykbaar ook groter verwagtinge dat aansporings vir beleggers sal verbeter.

Ontleding van die syfers dui ook daarop dat daar nie ‘n beduidende toename was in die maatskappye se beleggings in Suid-Afrika nie – selfs gemeet teenoor die swak tydperk in 2006. Insgelyks het indiensnemings nie beduidend gestyg nie.

Die Duitse maatskappye is ook grotendeels van mening dat ‘n afname in die ekonomiese groeikoers, ‘n daling in die waarde van die Rand teenoor ander geldeenhede en stygende olie- en elektrisiteitspryse ‘n aansienlike nadelige uitwerking op hul ondernemings gaan hê en hulle maan dat drastiese wysigings in wette oor die onteiening van grond en eiendom ‘n baie nadelige uitwerking op toekomstige beleggings in die land kan meebring.

Seker een van die veelseggendste bevindings in die verslag is dat verreweg die meerderheid ondernemings van mening is dat swart ekonomiese bemagtiging ‘n duur oefening is met weinig voordele vir die sakegemeenskap en selfs die potensiaal het om hulle te dwing om hul ondernemings te sluit en pad te gee.

Altesaam 98 maatskappye het terugvoer gegee en hulle verteenwoordig sowat 80% van die werknemers van Duitse maatskappye in die land. Die getal respondente is meer as in die vorige opname, maar heelwat minder as die 168 van so tien jaar gelede. Uit hierdie syfers moet afgelei word dat die getal Duitse ondernemings wat in Suid-Afrika bedrywig is, in daardie tydperk afgeneem het, maar presiese syfers is nie aangegee nie.

Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae