Die akteur Robert de Niro het om verskoning gevra oor ‘n rassistiese grap by ‘n presidensiële geldinsameling wat hy met Michelle Obama gedeel het oor ‘n “wit presidentsvrou” ná die Amerikaanse verkiesing.
Die Oscar-bekroonde ster van “The Godfather” en “Raging Bull” sê hy het geen bybedoeling met die opmerking oor die vroue van die Republikeinse presidensiële aanspraakmakers Newt Gingrich, Rick Santorum en Mitt Romney gehad nie.
“My opmerkings, hoewel as ‘n satiriese grap bedoel, was nie om aanstoot te gee of iemand in die verleentheid te stel nie – veral nie die eerste dame nie,” het De Niro in ‘n verklaring gesê.
Obama se veldtogwoordvoerder, Olivia Alair, het die grap “onvanpas” genoem.
Die akteur het Maandagaand in New York ‘n geldinsamelingsgeleentheid vir die herverkiesing van pres. Barack Obama bygewoon.
De Niro het begin deur die vroue van Republikeinse presidentskandidate te noem. “Callista Gingrich, Karen Santorum, Ann Romney. Dink julle rêrig ons land is gereed vir ‘n wit presidentsvrou?”
Die skare van skenkers voor hom het geskater van die lag, maar De Niro het toe bygevoeg: “Te vroeg, reg?”
Newt Gingrich het die opmerkings onverskoonbaar en verdelend genoem. Michelle Obama se kantoor het gesê die grap was “onvanpas.”
