Vier mense is dood nadat ‘n gewapende man voor ‘n Joodse skool in ‘n stad in die suidweste van Frankryk op hulle losgebrand het, het ‘n staatsaanklaer in Toulouse Maandag gesê.
Ooggetuies en ouers van die leerlinge het vroeër gesê ‘n onderwyser en drie kinders is onder die slagoffers. Dit is die derde skietvoorval van sy soort in ‘n week.
Die drie kinders, van 3, 6 en 8 en ‘n onderwyser is Maandagoggend by die skool Ozar Hatorah in Toulouse doodgeskiet, het Michel Valet gesê.
Yossi Gal, Israel se ambassadeur in Frankryk het hom na Toulouse gehaas om die gesinne by te staan. Die Franse president, Nicolas Sarkozy was ook vanoggend op die toneel.
Die president het Dinsdag vir ‘n minuut stilte gevra. Nog mense is gewond in die voorval, waarvan twee ernstig.
Die skieter het op ‘n wit bromponie weggejaag, het ‘n polisiebeampte wat graag anoniem wou bly, in Parys gesê.
‘n Oogetuie en onderwyser, Franck Califa, het gesê hy het nie trane nie want hy is te geskok. Twee wapens is in die aanval gebruik; ‘n 9mm sowel as ‘n outomatiese 11.43-kaliber.
Die polisie het die privaatskool in die noordooste van Toulouse afgesper en die kinders was twee uur ná die skietvoorval steeds in die skool vasgekeer. Die voorval het 08:10 plaasgevind. Polisiehelikopters is oor die stad ontplooi.
Die skietery het in dieselfde omgewing gebeur waar ‘n gewapende man Donderdag op ‘n motorfiets op drie valskermsoldate by ‘n bank in Montauban losgebrand het. Twee soldate is in die voorval dood en die ander een is gewond.
Vier dae vroeër het ‘n gewapende man op ‘n motorfiets ‘n ander valskermsoldaat in Toulouse doodgeskiet.
Owerhede het intussen gesê dieselfde wapen is in die voorvalle in Montauban en Toulouse gebruik.
Dit is nog nie bekend of die drie voorvalle met mekaar verband hou nie. Die president asook opposisiepartye het aangekondig dat die verkiesingveldtog vir eers tot stilstand sal kom.
