Washington Post steek die Rubicon oor

‘n Advertensievennootskap tussen die Washington Post en een van die Chinese regering se propagandablaaie het vrae laat ontstaan oor die regsimplikasies van buitelandse propaganda onder ‘n Amerikaanse mashoof.

Die probleem is die Post se China Watch-publikasie, ‘n druk- en aanlyn-reklame-bylaag wat voorgee om nuus oor China te lewer. Die webwerf huisves talle artikels en stukke wat die beeld die Chinese regering poets en veral sy menseregterekord in ‘n gloeiende lig stel.

Sommige etiek- en joernalistiekkenners en China-waarnemers sê die vennootskap breek etiese grense en mislei lesers oor die Chinese regering se rekord oor ‘n hele aantal belangrike kwessies.

Die China Watch-webwerf, wat die Washington Post se amptelike mashoof gebruik, lyk soos baie ander aanlynnuuswerwe, met video’s, artikels en skyfievertonings. Net ‘n klein blokkie in die webwerf se regterkantste hoek verklaar: “‘n Betaalde bylaag tot die Washington Post.”

Joernalistiekkenners glo dat die Post aan lesers moet verduidelik wat die presiese aard van sy verhouding met China nou eintlik behels.

“Hulle moet die spreekwoordelike olifant aanspreek in die woonkamer: Waarom ‘n kommunistiese regering se geborgde publikasie?” vra Lois Boynton, ‘n joernalistiek-professor by die Universiteit van Noord-Carolina se Skool vir Joernalistiek en massakommunikasie.

“Dit bring ‘n etiese kwessie na vore,” sê Boynton, wat China Watch al gekritiseer het vir sy doelbewuste verdoeseling van feite.

“Daar is kwessies van deursigtigheid wat verband hou met China Watch,” het sy gesê.

“Lesers kan reg deur hierdie afdeling gaan asof hulle beweeg deur die harde nuus na meer in-diepte verslaggewing, en nooit besef dat hulle oorval word met Chinese regeringspropaganda nie,” sê Stephen Yates, ‘n voormalige nasionale veiligheidsadviseur vir vise-president Dick Cheney.

China Watch se inhoud word hoofsaaklik deur China Daily vervaardig, ‘n Engelse koerant met ‘n onkritiese blik op die Volksrepubliek van China en die Kommunistiese Party oor ‘n verskeidenheid kwessies, insluitende die ekonomie en politiek.

Baie van die skakels op China Watch neem die leser direk na China Daily se webblad. Die webtuiste word bedryf onder ‘n China-domein naam, wat beteken dat die inhoud daarvan erg gereguleer word deur die Kommunistiese Party se sensors.

Volgens bronne het hulle onlangs ‘n swaar gedokterde transkripsie van ‘n onderhoud met die Chinese vise-president Xi Jinping geplaas, waar die Chinese regering “vrae en antwoorde van sy eie” verskaf het en die Amerikaanse publikasie se vrae geïgnoreer het.

Ombudsman Patrick Pexton verwys na dié artikel as “meer persverklaring of propaganda as nuus.”

Die Post se kommunikasie-direkteur, Kris Coratti, verdedig die koerant se advertensie-beleid: “Die afdeling is duidelik gemerk as advertensie sodat ons lesers weet dit is nie die Washington Post se nuusinhoud nie.”

China Watch se inhoud verhoog ook vrae oor wette wat die werkinge van buitelandse agente beheer ivm politieke propaganda.

“As ‘n regsaangeleentheid is ‘n mens redelik vinnig in troebel waters,” sê Bill Reinsch, ‘n lid van die VSA en China se Economic and Security Review Commission. Hy sê dit mag jare neem om die kwessie uit te pluis.

China se kritici op Capitol Hill sê China Watch illustreer ‘n veel groter probleem.

“Die Chinese het ons eie vryemark en winsstelsel gebruik, en omgedraai, om die Kommunistiese Party in China te ondersteun,” sê ‘n navorser van Rep. Dana Rohrabacher (R., Kalifornië), ‘n uitgesproke kritikus van China.

Ander vrae is geopper oor wat presies die Chinese regering vir sy geld ontvang.

“Wat kry hulle? Verkeersinligting? Identiteitsinligting” wonder Yates. “Alle soorte dinge sal ‘n spoor laat as jy iets lees, ‘n deel van ‘n artikel, kommentaar. Wie gaan daardie inligting kry?”

лобановский александр игоревич харьков

Maak 'n opvolg-bydrae