Hyundai Elantra verdien Motor van die Jaar!

{jathumbnail off}

Hyundai Elantra

Eergisteraand is die Hyundai Elantra hier bo as Motor van die Jaar deur die land se motorjoernaliste by ‘n spoggeleentheid in Johannesburg aangewys. Soos die leser van ons padtoets sal kan sien, was dié toekenning welverdiend!

Produkte uit Suid-Korea was nog altyd ‘n groot probleem vir Japannese vervaardigers. Die tradisionele groot vervaardigers van elektroniese goedere soos Sony en National het jare lank die oorhand gehad waar dit by televisiestelle en rekenaars kom. Die afgelope 10 jaar of so het reuse soos LG en Samsung die mark begin oorheers. In die motorvervaardigingsektor het spelers soos Hyundai en Kia sowel as Ssangyong baie goeie produkte begin lewer. As ek so 20 jaar terugdink. het mense van “Jap scrap” gepraat as hulle van Japannese voertuie praat, maar vandag is Japannese produkte gesogte kwaliteitprodukte. Alhoewel dit die Koreane ongeveer tien jaar geneem het om die stigma van goedkoop swakgehaltevoertuie af te skud, word Hyundai en Kia vandag as van die grootste en beste vervaardigers in die wêreld gereken.

Ons het die geleentheid gekry om een van die Motor van die Jaar-finaliste uit die Hyundai-stal onder hande te neem. Ons toetsmotor was die Hyundai Elantra GLS 1.8 Outomaties. Die Elantra ding mee teen motors soos die Toyota Corolla, VW Jetta, Honda Civic en sy niggie, die Kia Cerato.

Voorkoms

Almal sal seker saamstem dat die Elantra een van die mooiste motors op die pad is; sy vloeiende lyne met die hoë skouers en kort voor- en agter-oorhange laat die motor vars en sportief vertoon. Die nuwe Elantra is heelwat groter en breër as sy voorganger. Ons het tydens ons toetstydperk die Elantra reg langs ‘n nuwe Sonata geparkeer en wat grootte aanbetref, is die Elantra slegs effe korter as die Sonata.

Ruimte

Van die 420-literbagasieruim tot die 842mm-beenruimte vir die agterste passasiers, troef die  Elantra die meeste van sy klasmaats. Daar is oorgenoeg sitplek vir vyf volwassenes in die motor en dan kan al vyf nog ‘n groot reistas ook saamneem. Kop- en skouerruimte is verbasend vir ‘n motor met so lae daklyn.

Hyundai Elantra binne

Binneruim

  

Die Elantra is in sy geheel ‘n nuwe ontwerp, dit geld vir die binneruim ook. Met vloeiende, swiepende lyne en gehalteplastiekinsetsels herinner die binneruim jou aan dié van die Sonata, maar ons insiens is die stowwe in die Elantra nie heeltemal in dieselfde klas as dié wat in die Sonata gebruik is nie. Ons toetsmotor was ook met materiaalsitplekke toegerus. Dus minder leer as in die Sonata, maar tog van ‘n hoë gehalte. Daar is genoeg armleunings en bêreplekkies vir al die los goedjies wat altyd in die motor kan rondlê. Die klankstelsel is ook puik en verder is die binneruim toegerus met alles wat ‘n mens in die klas verwag. Elektriese kantruite, outomatiese klimaatbeheer met aparte kontroles vir die bestuurder en die voorste passasier, die hoofligte gons en gaan ook self af wanneer die motor afgeskakel word. Die Elantra se binneruim is ‘n baie aangename plek, veral omdat die pad en windgeraas ook heel effektief gedemp word. Ons het ‘n paar keer gewonder hoekom iemand ‘n Sonata sou aanskaf as die Elantra werklik alles teen ‘n veel beter prys bied.

Verrigting

Met ons toetsmotor wat seepglad deur sy 6-spoedoutomatieseratkas gly, het ons die verrigtingsyfers wat Hyundai SA aangee gemaklik bereik. Die maksimumsnelheid van 202 km/u is sommer baie vinnig bereik en ons het ‘n versnellingstyd van 9,9 sekondes aangeteken wat vinniger is as die 10,2 sekondes wat Hyundai aangee. Brandstofverbruik het ons gemeet op ‘n indrukwekkende 8,1 l/100 km; dit het ekonomiese stadsverkeer sowel as togspoed op die ooppad ingesluit. Die uitlaatgassyfer word deur Hyundai as 169g/km aangegee wat die Elantra nogal groen ook maak – glad nie sleg na ons mening vir ‘n middelslaggesinsmotor nie. Die 1,8-literpetrolenjin lewer 110Kw en 178 Nm se wringkrag.

Gevolgtrekking

Met ‘n prys van R239 900 is die Elantra R43 000 goedkoper as die Honda Civic 1,8 Outomaties, R44 900 goedkoper as die Toyota Corolla 2,0 Outomaties en selfs R3600 goedkoper as die 1,6 Outomatiese Corolla. Ons het dit verwag, maar die Elantra het toe gisteraand die Motor van die Jaar-toekenning ontvang. Ons gee hom 5 uit 5.

Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae