Die Suid-Afrikaansgebore aktrise, Charlize Theron, het volgens berigte in die Amerikaanse pers ’n swart babatjie aangeneem. Bronne na aan haar sê die baba se naam is Jackson.
Theron, wat die Akademie Toekenning in 2003 vir haar rol as die reeksmoordenares, Aileen Wuornos, in die rolprent “Monster” gewen het, is bekend vir haar liberale politieke opvattings en bewondering vir swart leiers. In die vorige Amerikaanse verkiesing – Theron het VSA-burgerskap – was sy ’n vurige ondersteuner van Barack Obama.
Voorheen, met haar eerste ontmoeting met oud-president Nelson Mandela, het sy hom om die nek geval en snikkend uitgeroep: “Ek is só lief vir jou.”
Die voormalige model is in Benoni aan die Oos-Rand gebore en het ’n suksesvolle loopbaan in Europa gehad voordat sy na die VSA verhuis het waar sy glo tydens ’n relletjie in ’n banktou deur ’n rolprentagent opgemerk en as kliënt aangeneem is.
Sy het gou sukses gesmaak vanweë haar vurige vertolking en gewilligheid om naaktonele te doen. Sy was in ’n reeks langtermynverhoudings, waarvan die laaste na nege jaar met die akteur Stuart Townsend voorverlede jaar tot ’n einde gekom het. Sy het aan die kletsprogramaanbieder Piers Morgan gesê sy glo nie in die huwelik nie.
Theron is nou een van ’n reeks Hollywood-aktrises wat swart babatjies aangeneem het. Dit sluit Angelina Jolie, Madonna en Sandra Bullock in.
