Die 57-jarige Twine is in die Milpark-hospitaal dood nadat hy verlede week ‘n hartaanval gehad het, het sy vrou Marilyn aan die SABC gesê.
Twine was ‘n ekonoom en direkteur by Econometrix.
Twine het verlede week ‘n verslag gepubliseer oor die ekonomiese implikasies van die voorgestelde ondersoek na skaliegas in die Karoo.
Volgens Econometrix se webwerf het Twine aan die Pinelands Hoërskool gematrikuleer en sy graad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.
Hy het by Unisa studeer terwyl hy vir Mobil Oil (SA) gewerk het.
Hy het later by Datsun Nissan aangesluit, waar hy ‘n senior ekonoom en navorsingsbestuurder was.
Twine het in 1983 by Econometrix aangesluit en is in 1986 as ‘n direkteur aangestel.
Hy was baie bekend vir sy werk in die motorbedryf en was ‘n regeringsraadgewer oor energiebeleid.
