Afghanistan ‘n fiasko na jongste moordaanval

Sestig persent van die Amerikaners glo dat die oorlog in Afghanistan nie die koste daarvan werd is nie, en byna dieselfde aantal glo aan ‘n vroeë Amerikaanse onttrekking van die land, het ‘n nuwe peiling getoon.

Die opname deur ABC News en The Washington Post het aangedui dat die aantal skeptici byna verdubbel het van die vorige 35 persent wat sê die dekade-lange poging is ongeregverdig en ‘n onnodige verlies van lewens.

Sowat 54 persent van alle Amerikaners wil uit Afghanistan uit selfs al is die Afghaanse weermag nie voldoende opgelei om die stryd te voer nie, volgens die opname.

Die Verenigde State en sy NAVO-bondgenote is van plan om hul troepe uit Afghanistan te onttrek teen die einde van 2014.

Intussen het president Barack Obama belowe om ‘n spoedige ondersoek na die “skokkende” moord van 16 Afghane deur ‘n Amerikaanse soldaat, te loods.

Obama het weer die Afghaanse president Hamid Karzai gebel om sy medelye oor te dra nadat die soldaat burgerlikes in hul huise in die suidelike provinsie van Kandahar afgemaai het.

Dit volg kort op die hakke van onluste by die Bagram-gevangenis nadat Amerikaners Korans daar verbrand het. Obama het die Afghaanse premier daarna ook geskakel en om verskoning gevra.

Die Amerikaanse ambassade in Kaboel het ‘n waarskuwing aan sy burgers uitgereik as ‘n gevolg van die jongste skietery, en verklaar “daar is ‘n risiko van anti-Amerikaanse gevoelens en protes in die komende dae”.

In ‘n woedende verklaring na die Kandahar-skietery, het Karzai gesê dat “wanneer Afghaanse mense doelbewus vermoor word deur Amerikaanse magte, hierdie aksie op moord en terreur neerkom en ‘n onvergeeflike optrede is”.

In Brussel, het NAVO-hoof Anders Fogh Rasmussen sy skok uitgespreek asook sy “innige meegevoel”.

Australië, wat ongeveer 1550 soldate in Afghanistan het, het ook hul meegevoel uitgespreek, maar beloof om gefokus te bly op die sending.

‘n Gewonde 16-jarige, wat in die been geskiet is, het aan Karzai per telefoon vertel dat die soldaat in hul huis in die donker voor dagbreek ingebreek het, en op hulle begin skiet het.

‘N AFP-verslaggewer op die toneel van die moord het die liggame van 16 mense, insluitende vroue en kinders getel.

Daar was ten minste twee kinders, net twee of drie jaar oud onder die dooies.

Amerika moes uit Irak onttrek sonder dat hulle ‘n ooreenkoms bereik het om aan hulle soldate immuniteit te gee. Dieselfde sal waarskynlik in Afghanistan gebeur waar hulle die nederlaag sal moet sluk en sonder waarborge sal moet onttrek.

лобановский депутат

Maak 'n opvolg-bydrae