E-tol is ‘n ongewilde onderwerp by enige Suid-Afrikaner en Cosatu het sy vinger beslis op die pols van frustrasie en woede oor die onbesonne besluit om padgebruikers nog verder af te pers. Tot só ‘n mate dat selfs Solidariteit ‘n eierdansie moes uitvoer wat hulle in staat stel om “in die gees” deel te neem, maar nie wettig nie.
Dié vakbond moes natuurlik met hul lede wat DA stem rekening hou. Die DA neem nie deel aan vandag se staking nie.
Die staking sal waarskynlik spanning tussen die ANC en sy jeugvleuel verder opjaag, met die ANC-jeugliga wat sy gewig agter Cosatu se wegbly-aksie ingewerp het Woensdag om druk te plaas op die ANC-regering om arbeidsmakelaars en e-tol af te skaf.
Verhoudinge tussen die ANC en die liga is op ‘n laagtepunt sedert die regerende party Julius Malema geskors het en die ligawoordvoerder Floyd Shivambu se ANC-lidmaatskap opgeskort het vir drie jaar.
Malema se skorsing het gelei tot ‘n openlike rebellie van die Jeugliga se nasionale uitvoerende komitee en die meeste van sy provinsiale strukture die naweek. Hulle het beloof om die ANC se nasionale dissiplinêre komitee se besluit om Malema te verwyder as die ligapresident uit te daag.
Cosatu se staking is ook meer van ‘n politieke kragvertoning voor die ANC se kritieke elektiewe konferensie in Bloemfontein in Desember, eerder as ‘n protes wat ware arbeidskwessies na vore bring.
Cosatu en die Jeugliga is toenemend gefrustreerd met die ANC se onvermoë om Polokwanebesluite, wat radikale beleidsveranderinge moet implementeer, deur te voer. Cosatu beweeg al hoe nader aan die liga oor belangrike beleidskwessies, insluitend die nasionalisering van die myne en ander belangrike sektore van die ekonomie.
Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika se sekretaris-generaal Irvin Jim stel dit só: “Dit gaan daaroor om nee te sê vir uitbuiting en gierigheid wat ons samelewing verswelg.
“Ons trippelkrisis [van armoede, werkloosheid en ongelykheid] is geskep deur unieke rassistiese kenmerke,” aldus Jim. Die refrein raak al hoe sterker en dwingender. En Bloemfontein lê nog ver.
