Die Sweedse weermag-navorsingsagentskap (FOI) het Saoedi-Arabië sedert 2007 gehelp, alhoewel die bouwerk aan “Projek Simoom” nog moet begin, het die stasie gesê en honderde geklassifiseerde dokumente en onderhoude met rolspelers aangehaal.
Swede het in die verlede wapens aan Saoedi-Arabië verkoop, maar geklassifiseerde regeringsdokumente sê Projek Simoom “breek deur die grense van wat moontlik is vir ‘n Sweedse instansie,” het die radiostasie gesê.
“Die feit dat ‘n instansie soos die FOI betrokke is in die beplanning van ‘n wapenfabriek vir ‘n regering wat ‘n diktatorskap soos Saoedi-Arabië is, is baie raar,” het die stasie gesê.
Die direkteur-generaal van FOI, Jan-Olof Lind, het die bestaan van die projek ontken.
“Ons het nie ‘n projek-ooreenkoms met daardie land nie,” het hy aan die radiostasie gesê.
Op ‘n spesifieke vraag oor of daar ‘n Projek Simoom saam met Saoedi-Arabië is, het Lind gesê: “Nee. En ek wil nie kommentaar lewer oor gesprekke wat moontlik tussen Swede en Saoedi-Arabië plaasgevind het nie. Hierdie gesprekke is geheim.”
Nietemin het verskeie voormalige werknemers van FOI bevestig dat die projek bestaan, insluitende Dick Straeng, wat die projek tot 2010 gelei het en een van Lind se naaste kollegas was.
“As ek julle bewerings moes weerlê sou ek moes sê dat die dokumente wat aan my getoon is, vals is, en hulle is nie,” het hy gesê toe die geklassifiseerde materiaal aan hom voorgelê is.
Hy het bygevoeg dat die Sweedse regering ten volle bewus was van die planne.
Die ministerie van verdediging het geweier om kommentaar te lewer op die radio se verslag as gevolg van die geklassifiseerde aard van die projek.
“Ek kan nie kommentaar lewer op die samewerking nie,” het die staatsekretaris Haakan Jevrell aan die radiostasie gesê.
Die radio beweer dat enige direkte skakeling tussen die FOI en die regering weggesteek is, deur ‘n skadumaatskappy te skep wat kontak met Saoedi-Arabië hanteer het.
“FOI het, so ver as wat die ministerie van verdediging weet, geen samewerking gehad met die maatskappy wat in die radio-verslag genoem word nie,” het die minister van verdediging Sten Tolgfors op sy blog geskryf.
“Daar is geen regeringbesluite wat die FOI ‘n mandaat gee om ‘n fabriek vir wapenproduksie te bou nie,” het hy bygevoeg.
Die Sweedse premier Fredrik Reinfeldt het slegs ‘n kort kommentaar Dinsdag gegee.
“Die regering is verantwoordelik om te verseker dat wetgewing en regulasies in plek is en gevolg word, en ek vermoed dat die verantwoordelike owerhede die reg gerespekteer het,” het hy gesê aan die nuusagentskap TT.
Swede se opposisiepartye het Dinsdag ‘n ondersoek gevra na die ministers se hantering van regeringsake.
“‘n Ondersoek moet gelas word of die minister van verdediging se optrede in ooreenstemming met Swede se demokratiese ideale en internasionale verpligtinge was,” Gustav Fridolin in ‘n verklaring gesê.
Hy het gesê Sweedse samewerking met Saoedi-Arabië is nie voordelig vir demokrasie in die wêreld of Sweedse belange nie.
“Swede moet sy goeie reputasie nie bederf deur die ondersteuning van die weermagte van diktature nie,” het hy gesê.
In Saoedi-Arabië, is verkragting, moord, geloofsversaking, gewapende roof en dwelmhandel strafbaar met die dood, omdat hulle streng die sjaria of Islamitiese wetstoepassing volg.
