Mediese amnestie?

Die kwessie van mediese paroolaansoeke van gevangenes is reeds ‘n netelige saak in Suid-Afrika, met ANC-ondersteuners wat oënskynlik voorkeur bo ander landsburgers geniet.

Nou het die ANC ‘n nuwe plan bedink wat die aansoeke nog verder gaan kortwiek en waarskynlik gou in administratiewe chaos sal dompel, so erg dat dit byna neerkom op mediese amnestie.

Die land se 170 000 gevangenes, of hul families, sal om mediese parool kan aansoek doen, en ‘n nuwe raad van net tien dokters sal die hele proses moet deursien. Die aansoekers hoef ook nie meer terminaal siek te wees nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van korrektiewe dienste, is egter vol vertroue dat die plan sal werk, en die regulasies sal op 1 Maart in die Staatskoerant geproklameer word.

Dr. Victor Ramathalese sal as voorsitter van die nuwe adviesraad dien en dr. Angelique Coetzee die ondervoorsitter.

Mapisa-Nqakula het die nuwe stelsel aangekondig omdat die huidige mediese paroolstelsel gekritiseer is weens die vrylating van pres. Jacob Zuma se voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik.

Mediese parool word alleen in gevalle oorweeg waar gevangenes terminaal siek is en word geïnisieer deur medici of korrektiewe personeel. Die land se 52 paroolrade besluit oor die aansoeke.

Volgens Mapisa-Nqakula skep dit die geleentheid vir dokters om hul vriende te help. “Dit stel die regering bloot. Ons wil hê dokters moet die verantwoordelikheid dra sodat parool nie verkeerdelik toegestaan word nie.”

Sy het belowe dat verkoues of chroniese toestande, soos MIV/vigs, egter nie oorweeg sal word nie, ten spyte daarvan dat die lys siektes wat gevangenes sal laat kwalifiseer, “oop” sal wees.

Die nuwe regulasies sal enige gevangene, of hul familie, in staat stel om aansoek te doen om mediese parool.

Mapisa-Nqakula het aangedui dat sekere aansoeke “prioriteit” sal geniet. Sy wou nie Jackie Selebi, voormalige polisiehoof, uitsonder by naam nie.

Selebi is onlangs terug tronk toe nadat hy ontslaan is uit ‘n privaathospitaal waar hy vir nierversaking behandel is.

лобановский харьков класс

Maak 'n opvolg-bydrae