Mantashe klap die sweep

Die ANC-Jeugliga moet die besluit om sy leier, Julius Malema, te skors gehoorsaam, het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, Donderdag gesê.

“Sodra ‘n besluit deur ‘n hoër liggaam geneem is, is dit bindend vir alle laer vertakkings. Of jy nou dink dit is laf of oningelig, dit is ‘n besluit en dit kan nie geweier word nie,” het hy gesê.

Mantashe, wat ook die voorsitter van die SAKP is, het gepraat by ‘n vergadering van die Jong Kommunisteliga by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.

Hy het gesê die ANC-Jeugliga wat in 1944 gestig is, verteenwoordig ‘n “meningsvormer” binne die ANC.

“Jy kan nie sommer sê jy is ‘n meningsvormer nie, jy moet dit verdien. Die Jeugliga van 1944 het die intellektuele kapasiteit en die analitiese vaardigheid gehad om die ANC in ‘n spesifieke rigting te beïnvloed.”

Hy het gesê die mengsel van generasies in die ANC is nie die funksie van “verjaardae” nie, maar eerder ‘n mens se bydrae tot die party.

“Dit is nie ‘n Jeugliga wat sê maak plek, ons het gearriveer nie,” het hy gesê.

“Jy moet opkom deur die struktuur van die moeder-liggaam deur jou bydrae, nie omdat jy sê ‘dis nou ons beurt’ nie.”

Hy het gesê die ANC het verskeie lede in die 60’s en 70’s geskors nadat hulle nie wou instem om nie-swart toe te laat om by die party aan te sluit nie.

“Hulle is ná ses jaar geskors. Mense vra, ‘waarom neem julle so lank om ontwrigtende lede te skors?’. Die ANC is ‘n olifant wat stadig beweeg… ons skors nie sommer nie.”

Vroeër Donderdag het Ronald Lamola, adjunkpresident van die ANC-Jeulgiga, gesê Malema kan nie deur enigiemand behalwe die strukture van die liga uit sy posisie verwyder word nie.

“Dit is slegs die interne prosesse van die ANCYL wat kan besluit om leierskap van die ANCYL te kies of te skors,” het Lamola aan verslaggewers by Luthuli-huis in Johannesburg gesê.

“Die ANCYL sal nooit saamstem dat sy leiers aan onregverdige behandeling blootgestel word of geskors word vir eng politieke doeleindes nie.”

Malema, sy woordvoerder, Floyd Shivambu, die liga se sekretaris-generaal, Sandiso Magaqa, die tesourier-generaal, Pule Mabe, en die adjunk-sekretaris-generaal, Kenetswe Mosenogi, is in November daaraan skuldig bevind dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid binne die party gesaai het.

Лобановский

Maak 'n opvolg-bydrae