“Die minister [Susan Shabangu] was redelik op die man af toe sy gesê het daar oor haar dooie liggaam nasionalisering sal wees. Vir ‘n duideliker stelling as dít, kan jy nie vra nie,” het hy aan die Mynindaba gesê waar hy afgevaardigdes in Kaapstad by ‘n mynkonferensie toegespreek het.
“Die mynsektor is so fundamenteel belangrik as ‘n platform om die [opheffing] oorgang te laat gebeur dat ons nie hierdie idee van nasionalisering vorentoe kan neem nie.”
Hy het gesê die bedryf verdien duidelikheid oor beleid.
“As ‘n doemprofeet kom en nog ‘n leuen [oor nasionalisering] vertel, moet hulle nie glo nie.”
Die regering sal eerder vennootskappe met die privaatsektor wil bou om die sektor op te bou deur opvoeding, verbeterde werksomstandighede en meer regte, het hy gesê.
Manuel sê Suid-Afrika sal mynmaatskappye nie onverhoeds betrap deur skielike nuwe belastings in te stel nie, maar ‘n aanpassing in hul huidige belastingkodes sal beslis oorweeg word.
Manuel sê indien daar ‘n verandering kom, sal die minister van finansies en die departement van minerale waarskynlik ‘n langtermyn-beplanning doen.
Die ANC het opdrag gegee vir ‘n studie oor die nasionalisering van myne wat eers afgehandel moet word.
Manuel sê myne behoort oordeelkundig belas te word, sodat geld van die industrie verkry kan word om in Suid-Afrika se ontwikkeling te belê.
Berigte lui dat die nasionalisering van myne in die studie verwerp word en dat die ANC eerder ten gunste is van hoër belastings en minerale regte-heffings.
