‘n Kommentaar in die People’s Daily, die amptelike koerant van die regerende Kommunistiese Party, het gesê China het “verantwoordelik” en in die belang van die Siriese mense opgetree deur die gebruik van sy vetoreg as ‘n permanente lid van die Veiligheidsraad.
Die situasie in Sirië is “uiters kompleks,” lui die kommentaar, en voeg by dat ondersteuning vir die een kant in die huidige konflik “vars saad van ‘n ramp kan saai”.
Die Engelstalige China Daily-koerant het kundiges aangehaal wat sê die veto deur China en Rusland “wen meer tyd vir ‘n politieke oplossing vir die krisis.”
“As die ontwerp-resolusie van die VN deur president Assad geweier word en hy nie mag oordra nie, sal Sirië ‘n tweede Libië binne twee maande word,” het Dong Manyuan van die Chinese Instituut vir Internasionale Studies gesê.
In Libië woed ‘n burgeroorlog steeds nadat die gewese leier Moeammar Gadaffi deur Amerikaansgesteunde rebelle tydens ‘n NAVO-inval vermoor is.
“Deur te druk vir ‘n stemming wanneer partye steeds ernstig verdeeld is oor die kwessie sal nie help om die eenheid en gesag van die Veiligheidsraad te handhaaf, of om die probleem behoorlik op te los nie,” het Li Baodong, China se ambassadeur by die Verenigde Nasies, vroeër gesê.
Li het gesê China glo dat die “soewereiniteit, onafhanklikheid en territoriale integriteit van Sirië, ten volle gerespekteer moet word.”
Clinton het gister gesê dat die Verenigde State sal druk vir verdere sanksies teen die Siriese president Bashar al-Assad se regime, en het gewaarsku dat die voortgesette onderdrukking kan “eskaleer in ‘n bloedige burgeroorlog.”
